Allies val vas teen Brits
HOËRSKOOL Aberton het net-net tekort geskiet in die uitspeel vir ’n vyfde en sesde posisie in die NWU Super 16 reeks op Hoërskool Dr Malan in Meyerton se velde op 23 April.
Dit was die tweede keer dat die spanne van Allies en Brits op die veld ontmoet het, en soos die vorige wedstryd met ’n telling van 10-elk, was dit ’n aanskoulike wedstryd wat opgedis is.
Hierdie keer was Brits reg vir die geveg en vanaf die eerste afskop het hulle druk op die Allie-span geplaas. Maar Allies het nie terug gestaan nie en het aanvalle afgeweer met goeie skopwerk en Brits telke male terug gedryf tot naby die halflyn.
Gebiedsvoordeel en balbesit het egter aan die Brits-span behoort en hulle het uiteindelik die eerste drie gedruk wat met ’n verdoeling die telling van 7-0 op die telbord geplaas het.
Net hierna het Allies weer vuur in hul kamp gekry en ’n vlaag van aanvalle teen Brits geloods. Hulle is vir hul spel vergoed met ’n goed geplaasde drie deur hul losskakel, Gerald Job wat deur die skrumskakel, Caltino Jones verdoel is om die telling op sewe-elk te staan te bring.
Die wedstryd het hierna behoorlik vlam gevat, nie net tot halftyd nie, maar ook daarna. Allies het hul natuurlike fisiese spel gespeel aangespoor deur hul kaptein Lunga Molele, maar Brits se verdediging was te sterk vir die Allie-aanvalle.
Brits het ’n strafskop oorgeklits en die telling na 10-7 opgeskuif. Dit was dan ook die eindtelling van die wedstryd waar Allies, ten spyte van twee kanse om twee moontlike strafskoppe oor te kon sit, die keuse gemaak het om na die hoekvlag te skop en te hardloop vir punte in hul voorbereiding vir die seisoen wat voorlê.
Daar is beslis ongelooflike potensiaal in die Allies-span en indien hulle meer kliniese spel begin speel en hul opsies beter oorweeg, is daar geen rede dat hierdie span nie end-uit in die komende liga kan gaan nie.






