Dinamika bly onoorwonne
Hoërskool Dinamika bly onoorwonne in die liga, na hul oorwinning oor Riebeeckrand op Saterdag 21 Mei.
HOËRSKOOL Dinamika bly onoorwonne in die liga, na hul tuis oorwinning oor Hoërskool Riebeeckrand op Saterdag 21 Mei.
Dit was ’n harde stryd, met albei spanne wat goed gespeel het, maar dit was die Namies (Dinamika) se agterlyn wat in die eerste oomblikke indruk gemaak het met goeie lynbreke, veral wyd, maar hulle het gesukkel met hul afronding, en so, punte verkwansel.
Namies se spel is die tipe rugby wat maak dat daar risiko’s is, maar wanneer reg benut, tot punte lei, en dit is beslis opwindende rugby om te aanskou.
Die tuisspan was eerste op die telbord met losskakel, Armand Steyn, wat ’n strafskop deur die pale gejaag het nadat Riebeeckrand onkant gevang is.
Riebeekrand het nie lank daarna nie ook ’n strafskop gekry en het so gelykop met die tuisspan gespeel.
Kort na die afskop het Freddie Bezuidenhoudt, die Namies se kaptein, homself oor die doellyn geforseer vir vyf punte, en nog twee punte is deur Steyn bygevoeg.
Voor halftyd het albei spanne ’n strafskop deur die pale gesit om die telling 13-6 voor rustyd te maak.
In die tweede helfte het dit gelyk of die kuierspan bietjie woema gekry het en ’n paar gate in die Namies se verdediging oopgekerf en sodoende baie druk op hulle geplaas, wat gelei het na ’n strafskop wat Riebeeckrand nog drie punte gegee om die telling 13-9 te maak.
Namies was egter te sterk en het twee goeie verwerkte drieë bewerkstellig, een deur die vleuel, Anton Adlem, en die ander deur skrumskakel, Oliver Hart.
Die eindtelling was 23-9, wat Namies steeds onoorwonne laat vir die seisoen.
* Inligting en foto’s verskaf deur Wayne Raath.





