Hartseer nederlaag vir Allies
Hoërskool Alberton val kort in die semi-finaal van die Goue Leeus Grootskole-toernooi, teen die Hoërskool Linden.
HOËRSKOOL Alberton het net-net teen Hoërskool Linden vasgeval in ’n titaniese Groot Leeus Grootskole-toernooi semi-finaal op Saterdag 4 Junie.
Die tuisspan het in ’n naelskraap stryd gespeel wat herinner het aan hierdie twee spanne se eerste ontmoeting vroeër in die seisoen, toe Allies met 17-14 koning gekraai het.
Die eerste helfte het gepaardgegaan met ’n paar foute in albei kampe, en was waarskynlik as gevolg van die oorweldigende druk waaronder spelers verkeer het in dié belangrike wedstryd. Dit was egter opvallend om te sien hoe nek-aan-nek die spel werklik was.
Alberton het meer bal- en grondbesit geniet, maar kon dit net nie benut tot hul voordeel nie, en foute deur die Alberton-span het gereeld gesorg dat Linden die bal by hulle weggevat het.
Die verdediging van albei spanne was indrukwekkend, en die spelers het nie geskroom vir die fisiese aanslag nie.
Linden en Alberton het albei ’n strafskop verdoel om die telling drie elk te maak teen die tyd dat die halftyd fluitjie geblaas het.
Die tweede helfte was maar veel van dieselfde, met Allies wat baie besit gehad het, maar net nie oor die doellyn kon kom nie.
Linden het die voorsprong gekry met ’n lang-afstand strafskop wat hul skopper middeldeur die pale geboor het, om hulle met 3-6 te laat voor loop.
Alberton se skrum was egter beter, so daai een aspek van hul vaste fasette, het druk op Linden gesit, maar ten spyte hiervan, kon Alberton nie iets maak met al die voordele wat hulle gehad het nie.
Nog ’n lang skop deur Linden se losskakel het die Allies in ’n hoek gedruk, en toe die Alberton kaptein, Lungelo Molele, probeer om met bal in hand deur te hardloop, het ’n harde hou die bal uit sy hande laat spaander wat Linden toegelaat het om die bal op tel en onder die pale te gaan kuier. Linden het die drie verdoel om met 3-13 op die telbord te spog met slegs 10 minute oor op die klok.
Alberton se ellende het verder vermeerder toe Caltino Jones van die veld afgestuur is vir vuilspel.
Toe Linden gedink het die wedstryd is verby, het Alberton goeie karakter gewys om terug te baklei en Molele het na ’n paar aanvallende bewegings deur Allies, oor die doellyn gedruk vir ’n welverdiende vyf punte; Francois Myburg se skopskoen het nog twee bygevoeg om die eindtelling ’n respekvolle 10-13 te maak.
Allies se nederlaag beteken dat Alberton nou slegs een span het wat dit gaan uitspook in die finaal om die wentrofee omhoog te hou.
*Inligting en foto’s verskaf deur Wayne Raath (vertaal).
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za





