Beeld Trofee titel behoort aan Leeuwenhof
Leeuwenhof Akademie wen gesogte Beeld Trofee.
LEEUWENHOF Akademie se o.14 span het op Saterdag, 23 Julie, hul wedstryd teen Hoërskool Fochville, wat by Alberton Rugbyklub gespeel is, met 36 punte teenoor drie gewen, en sodoende ligawenners vir die Beeld Trofee geword.
Leeuwenhof het van vroeg af druk op hul opposisie geplaas en is in die vierde minuut beloon met ’n drie toe hul agsteman, Tiaan Lange, met ’n goeie vertoning van krag, die eerste punte op die telbord gesit het. Hul heelagter het die drie verdoel om die telling 7-0 te maak.
Die spel was op en af, met die Fochies wat in die vyftiende minuut ’n strafskop in punte omgeskakel het, maar dit sou die laaste punte wees wat hulle in die wedstryd kon aanteken.
Vyf minute later het Lange weereens sy briljantheid gewys met ’n lopie regdeur die verdediging om nog vyf punte vir die Leeutjies te gee, maar die skop was links verby, om slegs die telbord 12-3 op te skuif.
Net voor halftyd het linkervleuel, Slade Gilmore, ’n drie gaan druk na hy ’n aangee van die binnesenter ontvang het.
Kort na die afskop van die tweede helfte, het die binnesenter, Zane van Loenen regdeur gehardloop vir nog ’n drie, sonder dat die verdediging ’n vinger op hom kon lê. Die span se losskakel het die skopwerk oorgeneem en hom deur die pale gejaag, wat die telling op 24-3 laat beland het.
Drie minute later het die oopkantflank, Carel Maré, met behulp van Van Loenen, sy rekening ook met vyf punte oopgemaak, en die drie is verdoel deur die losskakel.
Die Leeutjies was egter nog nie klaar met hul rugbyles nie en Van Loenen het nog ’n drie by hul telling gesit nadat hy ’n aangee gekry het van sy spanmaat wat oomblikke vroeër die bal gevang het deur ’n skoppie van die einste Van Loenen.
Leeuwenhof het met hul vertoning en deur 36-6 in ’n eindstryd te wen, ’n duidelike boodskap gestuur dat hierdie span een is om mee rekening te hou.
U mag ook in die volgende belangstel:



