Jannie du Toit kom om mense te vermaak
Op 8 September word Bonjour Monsieur Brel deur Jannie du Toit by die Brooklyn Teater aangebied.
Op 8 September word Bonjour Monsieur Brel, deur Jannie du Toit, by die Brooklyn Teater aangebied.
Jannie stel ook op die aand sy nuwe CD, Jannie du Toit chante/sing/sings/zingt Brel bekend. Die helfte van die 22 Brel-chansons is bestaande opnames wat hy saam met Christa Steyn gemaak het – beginnende met Madeleine en Liefde van Later in 1990.
Dan is daar ook Brel-liedjies uit De Kleine Man van 1994, Jannie en die Tannie van 2006 en Brel in Brooklyn van 2010.
Die ander helfte is opnames van verwerkings wat vir die huidige produksie gemaak is. Hierdie album is ’n lank gekoesterde droom van Jannie wat nou gestalte kry.
In Bonjour Monsieur Brel word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale gesing deur Jannie du Toit, begelei deur ’n musiekensemble uit die boonste rakke. Jannie is dekades reeds ’n hoog aangeskrewe Brel-vertolker en ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands.
Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein, saam met Laurika Rauch. Brel speel sedertdien deurgaans ’n rol in aanbiedinge soos De Kleine Man en Jannie en die Tannie, saam met Christa Steyn.
Sy mees onlangse optrede in ’n Brel-produksie was Brel in Brooklyn in 2010, weer saam met Laurika, met Christa op die klavier en Sergio Zampolli as akkordeonis. Veral twee Nederlandse Brel-liedere – Madeleine en Liefde van later – vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy latere Franse weergawes van La Valse en Il Neige sur Liège kry ook hoë lof van kenners.
Naòmi Morgan se Afrikaanse vertalings, wat uiters gunstig vergelyk met vertalings in ander tale, verteenwoordig ’n verrassende nuwe blik op Brel se tekste. Bekende treffers is natuurlik op die spyskaart, maar ook van sy meer onbekende, ewe briljante werk.
Met sy uiters geslaagde eenmanvertoning van woordkuns en musiek – Doep is nie dood nie – steeds op die planke, verwesenlik Jannie ’n jarelange ideaal om Brel ook in die genre van die eenman-literêre kabaret aan te bied.
Onder leiding van die deurwinterde Juanita Swanepoel – regisseur en dosent in drama by Stellenbosch Universiteit – word verbande tussen liedere en gedigte gelê en toegelig. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is, soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se opera’s, helaas soos alle groot kuns, tydloos.
Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu.
”Hierdie produksie is afgerond en goed beplan, Bonjour, Monsieur Brel! is ‘n energieke vertoning waarin Jannie die hele verhoog gebruik en woorde met hande en liggaamstaal verbeeld. Die taalverskeidenheid van die vertoning maak ‘n luukse indruk in hierdie tye van taalverskraling (Frans, Nederlands, Engels en Afrikaans” – Naomi Morgan.
*Mediavrystelling verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.
U mag ook in die volgende belangstel:
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.




