Netbalspan skitter by kampioenskappe
Hoërskool Dinamika se o.15A-netbalspan het op 27 Augustus aan die Gauteng Kampioenskappe deelgeneem.
HOËRSKOOL Dinamika se o.15A-netbalspan het op 27 Augustus aan die Gauteng Kampioenskappe deelgeneem.
Juffrou Jeanette Appel en haar span het hard geoefen om hierdie kampioenskappe aan te pak en ’n uitstekende prestasie huis toe te bring. Na baie oefen en harde werk, het hierdie span weereens bewys dat hulle nie sommer tou opgooi nie en dat hulle sal baklei tot die einde toe.
Met die aankoms het die senuwees geknaag, maar die meisies het kop bo water gehou en het nie toegelaat dat die ander skole hulle onderkry nie.
Tydens die eerste rondte het Hoërskool Dinamika teen Hoërskool Garsfontein gespeel en dié skool met ’n telling van 14-10 geklop. Gedurende die wedstryd teen Hoërskool Helpmekaar het Dinamika met ’n eindtelling van 19-6 weggestap.
Dinamika het teen Hoërskool Monument in die semi-finaal gespeel en het hierdie naelbytwedstryd met een punt gewen, waar die eindtelling 19-18 was.
Daarna het die Namies in die finaal vir vyfde en sesde posisie uitgespeel. Tydens die wedstryd teen Hoërskool Noordheuwel het Dinamika met ’n eindtelling van 22-17 gewen.
Hoërskool Dinamika het 17 wedstryde gespeel, waarvan hulle slegs twee verloor het en algeheel in die vyfde plek van 17 skole in Gauteng geëindig het.
*Verskaf deur Leandri Prinsloo van Hoërskool Dinamika.
U mag ook belangstel in die volgende:



