Goue Oues sorg vir rugbyfees
Veertien spanne het hul slag getoon en vir goeie en opwindende rugby in die “gees van plek, vriendskap en broederskap” gesorg.
VERWOERDPARK: Ervare Rugbyspelers verbonde aan Goue Oues-spanne van rugbyklubs in die Goue Leeus-unie het vir ‘n ware rugbyfees gesorg tydens die Goue Oues rugbytoernooi op Alberton.
Veertien spanne het hul slag getoon en vir goeie en opwindende rugby in die “gees van plek, vriendskap en broederskap” gesorg.
In die openingswedstryd het Alberton se bure uit die Suide, Hillbillies van Rosettenville sake uitgespook teen Harlequins van Pretoria. Driekwart Chris Vargues met ‘n pragdrie het vir ‘n groot hoogtepunt gesorg. Die Elande van Alberton het in die eerste helfte twee drieë teen Wanderers Old Boys afgestaan maar Alberton aangevoer deur Jason Waldeck het teruggeslaan met twee drieë deur die senter Dawid Pretorius en ‘n voorspelersdrie aangevoer deur voorsystut Piere Pieters.
Alberton Madalas onder aanvoering van Rudolf Prinsloo was in ‘n harde wedstryd teen Bobbies van Pretoria Polisieklub betrokke, wat saam met die Hillbillies die Raubie Raubenheimer- wisseltrofee vir beste spangees verower het.
Die mooi dag se rugby is afgesluit met ‘n harde wedstryd tussen “Golden Lions Golden Oldies” en ‘n bo 45-span, goed verteenwoordig deur Albertonspelers aan beide kante.
Die Goue Oues rugbyfees op Alberton is moontlik gemaak deur ruimhartige spesifieke borgskappe van Selati suiker, Meatworld in Verwoerdpark, Paintworld asook “Leisure for Life”.



