Nog ‘n wêreldkampioen vir Alberton
Suid-Afrika het baie goed presteer en het in die sesde plek geëindig uit 36 lande wat verteenwoordig was.
CHRIS Sutton, die eerste rugbyspan afrigter van Hoërskool Dinamika, het gedurende Oktober sy sewende Wêreld Meesters Stoei Kampioenskappe bygewoon in Walbrzych, Poland en ’n verstommende vierde wêreldtitel verower.
Chris het in die gewigsafdeling 85-97kg oftewel Kategorie D teen drie ander stoeiers meegeding.
Hy het sy eerste geveg teen Kalkabay Bopiyev (Kazakstan) gewen met punte. Hy het in die vier minute se stoei ’n voorsprong van 6–2 opgebou en dus deurgedring na die halfeindstryd waar hy teen die Rus Idris Iasulov kragte gemeet het. Hy het al vantevore teen die Rus baklei in die wêreldkampioenskappe en het ’n baie moeilike geveg verwag.
Dit was ’n yslike kragmeting en Chris het die Rus gefrustreer tot op die punt waar die Rus sy humeur verloor het en teenstrydig met die reëls, Chris teen die kant van sy kop met ’n gebalde vuis geslaan het. Dit het amper in ’n groot vuisgeveg ontaard, maar Chris het uitstekende dissipline gewys om nie terug te slaan nie. Op dié stadium was Chris voor met 1–0.
Die Rus was onmiddellik gediskwalifiseer en Chris het deurgedring na die finaal toe. Chris het in die finaal teen Joseph Raymond Cattan van die VSA te staan gekom en het die Amerikaner oorweldig deur hom 10–0 te oorskadu.
Die stoeier het gewys dat wat ’n mens ook al wil doen as jy dit voluit doen sal jy sukses behaal.
Trouens Chris is so toegewyd dat hy nou reeds begin oefen het vir die volgende toernooi in Bulgarye wat in Oktober 2017 plaasvind.
Vir die Suid-Afrikaanse span as ’n geheel was die toernooi weer eens ’n groot sukses en het hul algeheel sesde geëindig. Die toewyding van die span het gewys dat die Suid-Afrikaanse meestersspan ’n wenresep volg.
Hierdie jaar se wêreldkampioene is (goud):
*Chris Sutton (Kategorie D 85-97kg afdeling)
*Reg Holder (Kategorie F 85-97kg afdeling)
*Duane van Staden (Kategorie A 97-130kg afdeling)
Die silwermedalje-wenners:
*Donowan Davel
*Jacques Rossouw
*Hennie Bekker
*Gerhard van der Merwe
Die bronsmedalje-wenner:
* Pieter du Preez
Soos met enige sportsoort is fondse altyd nodig om te help om die verskillende toere mee te maak. Stoeiers lok nie altyd die groot borge wat ander sportsoorte lok nie. Nietemin moet die volgende persone en besighede wat bydraes gemaak het, bedank word:
*HXF Systems – Eugene Oosthuizen
*Datacom Computer Cabling – Dennis Pavcovitch
*T&J Pannelbeaters – Tom Korf
*Fury Ford Group Sandton – Lance Salley
“Ek wil opreg dankie sê vir die bydraes wat dit vir my moontlik gemaak het om aan die Wêreld Meesters Stoei Kampioenskappe te kon gaan deelneem het. Sonder hierdie bydraes sou dit finansieel baie moelik vir my gewees het. Jul ondersteuning word opreg waardeer,” het Chris gesê.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.




