
’n PAAR dae gelede was ek by die werk (Pizza Perfect, Bracken Gardens Shopping Centre) en een van die kassiere kom gee vir my ’n briefie deur my kantoorvenster. Die briefie is blykbaar vir haar deur ’n doofstom man wat vir kos en geld gevra het, gegee. Ek sê toe vir haar ons kan hom nie help nie en sy moet hom maar wegstuur.
Terwyl sy vir die man toe maar ’n glas water gaan haal, hoor ek ’n harde gil van die kombuis af. Dit was een van die kombuisdames wat dié man herken het – hy het haar en een van haar medewerkers dieselfde week met ’n mes beroof en hulle selfone gesteel terwyl hulle op pad werk toe was.
Siestog, sy was so bang, sy het haarself sommer in my kantoor gaan toesluit. Ek bel toe die polisie en roep die sentrum se sekuriteit om die man te kom verwyder. Nie 10 minute later nie toe is die polisie daar om ’n verklaring te kry en die dame in my kantoor te kalmeer, terwyl die sekuriteitsmense die man by hulle hou.
Met dié kom die kassier in my kantoor in en sê haar selfoon is weg. Die polisie kyk toe op ons sekuriteitsvideo-opname en sowaar as vet het die man haar selfoon gesteel terwyl sy vir hom gaan water haal het.
Die polisie arresteer hom en sy medepligtige toe. Hulle vra vir hom waar haar selfoon is, maar hy maak toe nogsteeds asof hy nie kan praat nie. Toe die polisie hom begin dreig, kon hy ewe skielik weer praat.
Hierdie is baie kommerwekkend. Hierdie diewe wag gereeld die werkers af in die aande na werk, veral as hulle weet dis ‘payday’. Laas November was twee ander werkers op dieselfde plek beroof en een van hulle is in die nek geskiet. Dié beseerde werker was vir twee maande lank in intensiewe sorg!
Ten spyte van die feit dat my geloof in die mensdom ’n klop weggeslaan het, wil ek nogsteeds net graag dankie sê vir konstabels Riaan Marais en Lindi Moloi van die Brackendowns SAPS, asook die Bracken Gardens sekuriteitspan. Dankie vir julle hulp, ons waardeer dit baie. Hou asseblief aan met julle goeie werk.”
– Jannalene Bezuidenhout
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



