Ranties vier suksesse met borge
’n Aand net om dankie te sê.
AGTER hierdie skool se sukses staan daar ouers met oop harte, wonderlike borge, onnies met ’n passie en leerders wat wil.
Laerskool Randhart het op 23 Oktober weer hul jaarlikse borge-aand, met die doel om dankie te sê aan ieder en elk vir hul bydrae om die skool se suksesverhaal te skryf, gehou. Veral die leerders se ouers, wat grotendeels verantwoordelik is vir die skool se uitmuntende prestasies en sukses, is bedank.
Ilse Kichenbrand (organiseerder) het die geselligeheid geopen met ’n stukkie oor hoe verskillende mense in Afrika dankie sê. Dit was ook Deon van Zyl (hoof) se laaste keer by die borge-aand omdat hy na 25 jaar as hoof, aftree.
“Na 25 jaar soek ons na ’n nuwe hoof wat groot skoene het om te vul. Meneer van Zyl, meeste van die skool se sukses is te danke aan meneer. Ons kan net dankie sê en ons wens vir vir u ’n gelukkige aftrede,” het Donovan Steenkamp, beheerliggaam voorsitter gesê.
’n Mylpaal
Verder het Donovan ook genoem dat daar byna ’n miljoen rand in 2018 ingesamel is. Johan Haasbroek (raad van die beheerliggaam) het ook suksesse van die skool genoem, soos die Bybelvasvra-span wat ’n algehele tweede plek behaal het en ook het die skool se atletiekspan wat ’n algehele derde plek behaal het.
“Die skool het ook nou ’n ondersteuningsklub wat alklaar besig is om fondse vir drie leerders wat met kanker gediagnoseer is, in te samel,” het hy gesê.
Die skool het dankie gesê aan die Alberton Rugyklub, die ouers, beheerliggaam, onderwysers, leerlingraad, hoofde van hoërskole Dinamika, Alberton en Marais Viljoen, en al die ander mense wat bydraes gelewer het.
Die skool en sy ondersteuners is opgewonde oor wat hulle in 2019 gaan bereik en sien uit na die nuwe jaar. Michael Boucher het die dankie-sê verrigtinge met gebed afgesluit en vandaar het die geselligheid met lekker drankies en smaaklike kos voortgegaan. Ranties kan voorwaar terugkyk op nog ’n baie suksesvolle jaar en wanneer mens na die toekomsplanne luister is dit duidelik dat hulle, met hul sterk tradisionele etiek van respek, harde werk en dissipline, van krag tot krag sal gaan.









