GalleriesNews galleries

GALLERY: FAK vereer Jannie du Toit

Jannie du Toit vereer vir sy besonderse bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope 50 jaar.

JANNIE du Toit sê hy is ná meer as 50 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld “geseënd om steeds te doen waarvoor hy lief is”.

Hy is op 5 Mei deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ‘n ere-toekenning vir sy besonderse kultuurprestasie vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope 50 jaar tydens die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees in Alberton, Johannesburg, vereer.

“Ek is baie jare geseënd en bevoorreg om te kan sing. Ek is baie lief vir my taal en ek doen dit natuurlik in die eerste plek omdat dit vir my lekker is. Ek doen dit vir myself, maar jy doen dit in die taal waarvoor jy lief is en as daar êrens erkenning is soos nou, is ek regtig groot dank verskuldig aan die FAK vir hierdie eer.”

Prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK, sê: “Enige musiekwêreld het standaarde nodig aan die hand waaraan hy hom kan meet. As daardie standaarde nie daar is nie, sak ons weg in die middelmatige en in vele opsigte verteenwoordig Jannie du Toit se musiek só ‘n standaard. Dit verteenwoordig goeie Afrikaanse musiek en die Afrikaanse musiek het dit nodig.” Volgens Goosen is die tweede rede Du Toit se noue verbintenis met Afrikaans en Nederland.

“Dit is vir ons (FAK) belangrik om daardie verbintenis in stand te hou ook juis ter wille van dié kwaliteit nie net van die Afrikaanse musiek nie, maar waarskynlik ook van die Nederlandse musiek. Jannie het deur die loop van sy roemryke loopbaan werklikwaar grense verskuif en nuwe wêrelde vir Afrikaans plaaslik en internasionaal geopen.”

Du Toit sonder veral die 25 jaar wat hy saam met Christa Steyn gesing het as ‘n hoogtepunt van sy musiekloopbaan uit, maar veel eerder dat die “Liewe Here my tot vandag toe die geleentheid gegee het om aan te hou. Dis eintlik die hoogtepunt”.

Jannie het tydens die kooraand by die Brackenhurst NG-kerk in Alberton alleen gesing, saam met die Cantare-kinderkoor en ook aan die einde saam met al die kore, waaronder Laerskool Concordia Seniorkoor, Laerskool Elspark Juniorkoor, Cantare-kinderkoor en die Alberton Mannekoor, van sy bekendste liedjies, ‘n Liedjie vir jou en Gee ons Vrede, gesing.

Die Cantare-kinderkoor is in 1995 deur Ida Strydom gestig om jeugdiges in die Suidelike Gauteng-streek en groter Ekurhuleni oor ras-, kultuur- en taalgrense heen te verenig. Dié koor is vandag een van die beste kinderkore in die land.

Tydens verlede jaar se Wêreldkoor Olimpiade in Pretoria het dié koor ook ‘n silwer medalje ontvang. Die Cantare-kinderkoor, wat uit sowat 265 lede bestaan, het al saam met verskeie kore opgetree en kunstenaars en groepe soos Rina Hugo, André Schwartz, Cutt Glass, Navi Redd, Manuel Escórcio, Jannie du Toit, Nianell, Jak de Priester, Juanita du Plessis, Coenie de Villiers, Heinz Winckler, Jannie Moolman, Joshua na die Reën en Elvis Blue.

Jannie se geskiedenis

Jannie du Toit (gebore Johannes Hendrik du Toit, op 13 Desember 1951 in Heidelberg) is ‘n bekende Afrikaanse sanger wat hom sedert 1971 besig hou met Afrikaanse musiek. Hy was lid van die sanggroep Trilogie van 1972 tot 1977 en begin met ‘n sololoopbaan in 1979.

Na voltooiing van sy leerklerkskap in die regsberoep word hy in 1981 deur Prof Chris Lamprecht by die Universiteit van Pretoria aangestel waar hy musiekblyspele skryf, onder andere in samewerking met prof Anna Neethling-Pohl.

Hy werk van 1986 tot 2011 permanent saam met Christa Steyn. Hulle skryf saam en tree wêreldwyd in meer as 20 lande op. Van hulle bekendste verhoogproduksies is Blik en Snaar, Skadu’s teen die muur, De Kleine Man en Jannie en die Tannie. Hulle laaste volledige verhoogproduksie is Brel in Brooklyn saam met Laurika Rauch en Sergio Zampolli in 2010.

Jannie skryf in die sewentigerjare sy eerste liedjies soos sy toonsetting van AG Visser se Rosa Rosarum (1972) asook sy eie Carmen optima de Stella (in Latyn), Seisoene saam met jou, Stadsgeluide, Lied van ‘n Swerwer en ‘n Liedjie vir jou wat die eerste keer tydens die Musiek en Liriek-konserte in die laat sewentigerjare gehoor is. Saam met Morg Jacobs en Andy Lubbe van Trilogie skryf hy verder Droom langs stille waters (waarmee Trilogie ‘n ‘Honorary Mention Prize’ in die American Song Festival van 1976 gewen het), Min of Meer, Resitasie, Die wêreld is ons woning nie (toonsetting van ‘n teks van Totius), Anitalief en ander liedjies wat Trilogie reeds tydens die toetsuitsendings van SATV in 1975 sing.

In die tagtigs volg talle nuwe liedjies soos Drie-uur in die môre en ‘n sewentigtal liedjies vir die musiekblyspele wat hy vir Tukkies geskryf het: Loeloeraai, Gansdans en RIP. Van dié liedjies het hy ook op sy solo-albums vrygestel – Troebadoer, My wens vir julle, Pantoffelregering. Saam met Christa Steyn skryf hy Vlieg Hoog, Afdraaipad, Ensemblespel, Die Liefde, Vra Maar, Die Vrou, Nogtans sal ek juig en vele meer. Jannie skryf ook nog tientalle liedjies soos Vrede Vanaand, Ons Twee, Volgende Winter, Leeuspruit. Verder word hy bekend vir videos van Madeleine (Jacques Brel), Gee ons Vrede, Die Eggo van jou Oë en Christa Steyn se verwerking van Pie Jesu saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon.

In 2011 vier hy 40 jaar van Afrikaanse musiek en sedert Christa Steyn se afsterwe in 2012, na ‘n jaarlange stryd teen kanker, werk hy veral saam met Susan Mouton (tjello), Clinton Zerf (verwerker), Coenraad Rall en Chanie Jonker (klavier), Theuns Botha (tromme), Lochner de Kock (in kookprogramme) en Thean Kotzé in die produksie Kiekies – Lucas se Liedjies.

In 2013 bied hy ‘n verhoogprogram getitel Grys Areas saam met Renette Bouwer aan en neem ook Gisela de Villiers se lied Die Eggo van jou Oë saam met Gisela op. Daarna volg die verhoogproduksies Cordon Broers se Kossêrt saam met Lochner de Kock (2012), Doep is nie dood nie (2014), Grenzeloos Nederlands (2015), Bonjour Monsieur Brel (2016), Kiekies – Lucas se Liedjies (2016), Oesjaar (2018) en Die Eggo van jou Oë wat by die Woordfees 2019 gedebuteer het.

Jannie bedryf sy hoog aangeskrewe Agterplaas Gastehuis in Melville, Johannesburg, sedert 1 April 1999.

*Bron: Sien www.agterplaas.co.za en www.fak.org.za

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button