Ek wil net weet wat daar gedoen kan word aan korrupte verkeersbeamptes? Ongelukkig het ek nie name of selfs ’n voertuig registrasienommer van die beampte wat my op 30 Desember op Heidelbergweg afgetrek het nie. Ek was op pad werk toe in City Deep. Op dié pad is daar verkeersligte en stopstrate en nadat ek dood gestop het by die een stopstraat het die beampte my afgetrek. Ek het geweet dat ek niks verkeerd gedoen het nie en het gedink hy trek my af om net my lisensies te kyk. Toe hy by my venster kom het ons mekaar gegroet en ek het my lisensie aan hom oorhandig. Hy het dit nie by my gevat nie. Hy het wel vir my gevra vir ’n “Christmas Box”.
My bloed het begin kook, maar ek het my koel gehou en vir hom gesê dat ek niks kontant aan my het nie. Hy het my so snaaks uitgekyk en na sy voertuig geloop. Na ’n rukkie het hy teruggekom en vir my gesê dat ek mag ry.
Hoe mag verkeersbeamptes dit doen? Hy het nie eers na my lisensie gekyk nie. Hy het net ’n “bribe” gesoek.
Nou vra ek, wat kan gedoen word? Dit is mos nie hoe dit werk nie.
Omgekrapte motoris – Alberton



