Ons is in die proses om ons huis te verkoop, maar daar is nog geen bordjies buite op wat sê dat ons wel verkoop nie.
Op 11 Februarie het ’n jong vrou en ouer man ons na die hek geroep.
Die man het homself voorgestel as Mike en die vrou se naam was Anita.
Hulle Volkswagen Polo (donkergrys/swart) het op die geel strepe tussen my en ons buurvrou se opritte gestaan.
Hulle het gevra of hulle nie die huis kan koop nie en omdat ons wil verkoop om na ’n kleiner plek te gaan het ons gedink dat dit ’n omen is en hulle ingebring.
Ek het toe net ons twee selfone, wat op die eetkamer tafel gelê het, gevat en in my handsak gesit en my handsak langs die klein TV op die TV kas plat neergesit.
Ons het hulle die huis gewys en al hulle vrae wat hulle oor die huis gehad het, beantwoord.
Nie vir ’n oomblik was hulle alleen gelaat nie. Die vrou het wel gevra of sy ons kleedkamer kan gebruik, maar hulle was nie eenkeer sonder toesig in ons huis nie.
Toe hulle weg is wou ek my foon gebruik en toe ek my handsak optel was altwee fone weg.
My beursie saam met ’n derde foon was nog in my handsak, maar net die twee selfone was weg.
Vrae wat nou in ons koppe is hoe het die twee persone geweet dat ons ons huis wil verkoop?
Hoekom het hulle net die selfone gevat en nie die res nie en hoe het hulle dit reggekry om die twee selfone onder ons neuse te steel?
My seun het ook met ons baklei en vir ons gesê dat dinge soveel erger kon uitdraai.
Ons is vandag baie dankbaar dat dinge nie erger uitgedraai het nie,
Ek wil graag net ander inwoners waarsku oor die nuwe tendens en hulle aanmoedig om versigtig te wees.
Moet nie net mense laat inkom nie, al klink dit of hulle al die regte vrae vra of regtig belangstel.
Wees versigtig.
Martie



