
Hulle het die dag in November my krag afgesit, maar dit moes my buurvrou se krag gewees het omdat sy meer as R10 000 skuld. Ek het tevergeefs die aand probeer om die krag aan te kry.
Ek het dit drie keer probeer aanmeld, maar hulle het uitgekom en die dame langsaan het aan hulle probeer verduidelik hulle moes haar krag afgesit het en nie ons sin nie maar hulle wou nie luister nie.
Ek het die volgend oggend dit gaan aanmeld en teen die middag was die krag steeds af. Ek het weer na die kantore gery en is deur iemand agter ingevat aangesien die deur reeds toe was. Ek het ‘n kabaal opgeskop totdat die klerk die kontrakteur geskakel het, sodat ek met hom kon praat.
Hy het vir my gesê hulle was al ‘n paar keer by die huis en kon niemand by die huis kry nie, maar ons was die hele dag daar om vir hom te wag. Hy het toe vir my gevra hoe lank dit my gaan neem om by die huis te kom, toe sê ek ses minute, maar die man sê toe vir my ek sal almal moet om verskoning vra aangesien ek verkeerd was en dat my krag binne in die huis uitgeskop het en ek nie na my bord gekyk het nie.
Die mense het toe gekom, maar kon vir geen geld in die wêreld die krag aankry nie; ‘n tweede bakkie met nog mense het gekom maar niks het gebeur nie. Daar was steeds geen krag by die bord buite nie. Hulle sê toe die kabel na die huis is foutief (daar was niks fout met die krag voordat hulle dit afgesit het nie).
Hulle moes toe maar die mense van die stadsraad bel om te kom kyk. Die man van die stadsraad kon die probleem sommer dadelik regstel aangesien die skakelaar by die boks in die straat uitgeskop het en 12 van hulle kon dit nie sien nie.
So wat my betref, is hulle nie bevoeg om die werk te doen nie.
Regina



