
Die papier met die “snakes en ladders”, gekleurde verskillende dae vir die verskillende voorstede, het die oom nogal lekker deurmekaar gemaak. Dit het nogal kophou gekos, een week het julle aangedui dat julle die groen plastiekhouers op ‘n Dinsdag sal kom afhaal, die volgende week was dit op ‘n Donderdag, die volgende week weer op ‘n Maandag ens. Julle moet onthou die oom is mos nou ook nie een van die skerpste potlode wat hier in die dorp rondloop nie – het sub A gedop, maar darem ‘n her in kleispeel gekry.
Die oom dink dat julle ook die man wat agter die stokke van die groot lorrie was, ook deurmekaar gemaak het, want hy het ook nie altyd op die ooreenstemmende dae op die pampier, die houers kom afhaal nie.
Met die aanbreek van die nuwe jaar 2014, toe verras julle moes nou die oom, want in Maartmaand toe dui julle aan, dat julle nou moeg is om met die oom se kop te smokkel en julle onderneem om een dag in die week vas te maak waarop julle die houers sal kom oplaai – kom “hell or high water”, naweke, vakansiedae en so meer. Ek sê toe nogal vir die antie, my boklam sê ek, ek kyk met ‘n nuwe bril na die hoofman oor honderd.
Ai en daar is die oom se hoop weer eens verydel, van die vier weke in Maart en drie weke in April het julle nog net twee keer op die beloofde dag (Donderdag) wat julle uitgesit het om die houers te kom haal, opgedaag. Nou kom die oom ook agter dat julle ook die volgende dag (Vrydag) “skip” – nou wonder die oom of die afhaal op ‘n Saterdag, miskien so uitgewerk is dat julle oortyd kan eis?
Oom Philip



