Curriebekerreeks met een punt misgeloop
Slegs ‘n enkele punt het uiteindelik tussen André Pretorius, Alberton se ervare eerste rugby-Springbok van Hoërskool Dinamika, se Luiperds-rugbyspan en Curriebeker Premierligastatus gestaan.
*Argief-foto verskaf.
ALBERTON – Met die aankondiging van die Curriebekerbepalings wat nou reeds in week sewe is, het André die Luiperds se kaptein erg teleurgesteld besef dat sy span nou die res van die jaar nie deel van die senior Curriebekerreeks sal wees nie.
Tog het die 35-jarige André in sy 17de seisoen as beroepspeler in rugby, se Luiperds hul laaste kwalifiserende wedstryd met ‘n verpletterende 103-15 teen die Grens Bulldogs gewen. Helaas het die een punt verskil op die punteleer tussen die Luiperds en Griekwas ongeskonde gebly. Griekwas se 33-32 oorwinning oor André se Luiperds in Kimberley was die deurslaggewende een teen die Luiperds. André se span was in daardie kragmeting egter 11-27 agter, voordat hul terugvegpoging uiteindelik met een punt nie genoeg was nie.
Aan ophou dink Dinamika se eerste Springbok van 12 jaar gelede nog nie. Hy dink al klaar aan volgende jaar se opmars vir sy span na die Premierliga. André, wat sy eerste toets in 2002 en sy laaste in 2007 beide teen Wallis gespeel het, het uit Frankryk, waar hy ligarugby gespeel het, teruggekeer huistoe om sy laaste eersterangse rugby hier vir die Luiperds te speel. In die rekordboeke van Springbokrugby pryk verskeie punte en -skoprekords agter hierdie Alberton-ster se naam om te getuig van ‘n roemryke rugbyloopbaan.



