Bedrywige atletiekkalender vir Alberton
Vanjaar se bedrywige atletiekkalender het afgeskiet en is tans sterk op dreef op alle vlakke van die sport.
ALBERTON – Skole het geklap by die skolesport byeenkomste by Hoërskool Alberton, Alberton High en Dinamika in Januarie, terwyl Marais Viljoen se atlete strawwe mededinging gehad het by onder meer ‘n byeenkoms op Kempton Park teen Jeugland, Garsfontein en Leeuwenhof en weer by Noordheuwel.
Op nasionale en internasionale vlak, is die hoogtepunt op die bedrywige atletiekkalender die wêreldbyeenkoms wat van 22 tot 30 Augustus in Beijing plaasvind. ‘n Ander groot byeenkoms is die Afrika Spele wat van 8 tot 19 September in Brazzaville in die Kongo aangebied word.
Mauritius sal op sy beurt op 13 en 14 Junie die Suider-Afrikaanse atletiekbyeenkoms vir seniors aanbied. Die Afrika Jeugbyeenkoms (23 tot 26 April) word ook op dié eiland gehou.
Die SA byeenkoms vind op 17 en 18 April in Stellenbosch plaas, terwyl die SA Jeug en Junior Byeenkoms ‘n week vroeër in Bloemfontein aan die beurt kom.
Die Afrika Junior Byeenkoms word van 5 tot 8 Maart in Addis Abeba, Ethiopië, aangebied, terwyl die SA Ope op 8 en 9 Mei weer in Potchefstroom sal plaasvind.
Die SA veldloopproewe is op 31 Januarie in Kagiso aan die Gautengse Wes-Rand gehou, met Alberton se Nicolene van der Merwe van Marais Viljoen algehele junior wenner. Nou sal Niclolene die nasionale span in die junior kategorie op 23 Februarie in Malawi verteenwoordig by die Suider-Afrikaanse byeenkoms vir atlete van die Suidelike streek van Afrika.



