Pat Markotter vier vol en ryk lewe
PAT Markotter se nuwe boek het pas die boekrak getref. Die nuuswêreld het die eerste keer met Pat Markotter kennis gemaak met sy optrede in RSG se stoomtreinpraatjies in die 80s en 90s.
ALBERTON – Die bokswêreld is egter dekades vantevore deur hom as bokser getref. Vanjaar het hy sy dekades-lange liefde vir veral klassieke musiek gevier met sy optrede op RSG se gewilde Saterdagoggend trefferprogram Vat vyf, terwyl hy ook voorheen op die TV program Pasella was. .
Die verrassingselement van hierdie besondere versamelaar van onder andere viniel klassieke plate, boksprogramme, stoomtreine en boks memorabilia, is die bekendmaking van sy boek Pat Markotter, tydens die Oos-Randse Veterane Boks Vereniging se Maartbyeenkoms.
Die unieke boek oor die lewe en werk van Pat Markotter begin met die geskiedenis van sy oorsprong en voorgeslagte. Die legendariese rugbyman Oubaas Markotter was sy oupa se ouer broer. Hy het nie op Stellenbosch soos Oubaas Markotter nie, maar by St Edmund Hillary en Jeppe High in die sentraal-suide van Johannesburg sy skooljare deurgebring.
Voorts skets die pragboek, ‘n aanwins tot die koffietafel, sy belangstelling in stoomketels, sy betrokkenheid by myne en as die enigste persoon wat nege Goewermentsertifikate by die Spoorweë kon verwerf, sy liefde vir klassieke musiek en die feit dat hy ‘n platekamer vir die Langeveldt Museum ingerig het. Sy huisinhoud as vergestalting van sy belangstelling, kan beskryf word as ‘n mini-museum en enige versamelaar se droom.
As ‘n besondere mens met besondere persoonlike liefdes in sy lewe en as gesinsman by uitstek sou hy in Maart vanjaar 55 jaar getroud gewees het.





