
Net verlede week is die kabels tydens beurtkrag gesteel, wat die gebied vir baie ure sonder krag gelaat het.
Hierdie week, toe is die buurt sommer weer heeltemal te vroeg weer sonder elektrisieteit. Dit is toe nie beurtkrag nie, maar weereens ‘n krimineel wat doenig was met die kabels.
Om dan van kennise, wat van hul bure verneem het, te hoor dat daar inwoners was wat die kwaaddoener agterna gesit en gevang het, hom goed geklits het maar dat hy ongelukkig losgebreek en weggekom het, laat mens teleurgesteld.
Erger, egter, is die feit dat hierdie hele insident blykbaar ten aanskoue van een van die ”op-en-wakker” sekuriteitsmaatskappye gebeur het, en dat die insittende in die sekuriteitsvoertuig die hele petalje net gesit en dophou het, en nie ‘n vinger verroer het om te help nie.
Vir my wil dit voorkom asof ons almal maar die reg in eie hande moet begin neem. Ons moet nou nie meer net waghond speel oor ons eie goed en ons bure se goed nie, maar ook oor allemansgoed en, as iets skeefloop, moet ons maar ”mob justice” begin toepas – en dit behoorlik toepas.
Die SAPD sou heel moontlik nie eers opgedaag het nie, as mens hulle geskakel het. Sekuriteitsmaatskappye begin ook laks raak, wat seker te verstane is, want hulle kry, so hoor mens, bitter min ondersteuning van die SAPD.
Dan praat mens nie eers van die onwilligheid, die swaksiendheid, of liewer totale blindheid en totale gee nie om van die metro nie. Hoe is dit moontlik dat hulle nie kan besef dat plekke soos hierdie beveilig moet wees nie?
Nee wat, dis tyd vir reg in eie hande neem.
Genoeg is genoeg, Alberton-Noord.



