Groot gospelfees by Klipkoppie
Vanjaar se Klipkoppiefees sluit 'n groot gospelfees op Sondag, 31 Mei, in.
ALBERTON – Die organiseerders voel dit is die gepaste manier om ‘n geseënde fees, wat ongekende groei oor 10 jaar getoon het, af te sluit.
Die eerste Klipkoppiefees het met ‘n handjievol 4×4 voertuie en ‘n paar gesinne, as ‘n gesinsdag by die Albertondam begin. Vandaar het dit net gegroei tot een van die grootste feeste nog, en vanjaar is alles nog beter en groter.
Sondag se gospelfees is een van die nuwe byvoegings en die kunstenaars se optrede sal 75 persent gospel en 25 persent kontemporêre musiek insluit.
Vieringe skop Sondag af met Dewald Gouws, wat saam met nuwelinge sal optree. Daarna vat hy oor vir sy optrede.
Dewald is ‘n evangelis en gospelsanger van Limpopo, en in 2006 het hy en ‘n klompie vriende die ”Mighty Men Conference” in Greytown bygewoon.

Hier het hy besef wat die werklike doel van sy lewe is. Sy eerste CD, ”Verhaal van Glorie” doen tans baie goed en sy nuutste album, ”Stuur my” word eersdaags vrygestel
Ander kunstenaars:
Adam Barnard het reeds ses albums in Suid-Afrika vrygestel, asook een in Engeland en Duitsland. Hy was oorspronklik deel van die bekende groep Romanz, waarna hy besluit het om sy solo loopbaan te begin.

Vir jare het Adam gevoel hy word geroep om deur sy musiek te bedien. Hierdie roeping het hom in sy ses jaar by Romanz bygebly en hy kon dit nie langer eenkant toe skuif nie, en so het ‘n heel nuwe rigting vir hom begin.
Adam sien uit daarna om Albertonners en al die besoekers van heinde en ver op Sondag, 31 Mei, te ontmoet.
Broers, of alternatiewelik Die Broers, is ‘n Suid-Afrikaanse groep wat bestaan uit die drie Snyman-broers, Christo, Cobus en Stephan, wat sedert 2006 saam optree. Hul groot treffer ”Huistoe” het in 2008 het Beste Liedjie van die Jaar-toekenning by die Tempo Toekennigs verower. Hul DVD, ”Broers tussen die Sterre”, is genomineer vir die Beste DVD van die Jaar. Moet hulle nie misloop by vanjaar se fees nie.

Riana Nel is ‘n liedjieskrywer en sanger van Namibië se wêreld, wat in Windhoek groot geword het en na Suid-Afrika verhuis het om haar loopbaan te begin.

Haar liedjies word beskryf as iets wat elemente van ”Pop” en ”Country” bevat, en dit het haar voete stewig in die wêreld van gospelsangers geplaas. As liedjieskrywer het sy al saam met Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Lianie May gewerk, en op haar kerfstok is optredes in nie net Suid-Afrika nie, maar ook Namibië, Frankryk, Holland en Engeland.



