Enrico is ‘n alsydige sportuitblinker
Sport is deesdae besonder gespesialiseerd, met die gevolg dat die dae van sportmanne wat in talle of ten minste meer as twee provinsiale sportsoorte presteer nie meer ‘n algemene verskynsel is nie.
ALBERTON – Die dae waar ‘n Tiger Lance wat in sokker en krieket ‘n uitblinker was, en Buster Farrer wat in tennis, krieket en hokkie in die ’60s uitgeblink het, is eintlik deesdae net tot die sportannale beperk.
Tog is daar ‘n jong sportseun in Alberton wat uitblink in feitlik elke sportsoort wat hy beoefen.
Hier ter sprake is die internasionale tuimelgimnas, 14-jarige Enrico Els, ‘n graad nege-leerder aan die Marais Viljoen Hoërskool en lid van die SA nasionale tuimelgroep, wat ook in atletiek, rugby en krieket sy merk maak.
In die tuimel-gimnastiek is Enrico reeds vir sewe jaar lid van SA nasionale spanne, waar hy talle kere provinsiale verteenwoordiging verwerf het en dan het hy ook talle medaljes op kampioensvlak tot sy krediet.
Op die atletiekbaan, in baan- en velditems, het hy sy skool verteenwoordig in verspring, 100m hekkies en aflosse, tot op groter Albertonvlak.
Enrico is ook ‘n alsydige krieketspeler en op die rugbyveld sal hy op volle vaart op senter of vleuel as deel van Marais Viljoen se o.15-spanne in aksie gesien kan word.
Annellien Holroyd, van die Alberton Tuimel-Gimnastiekklub, is baie trots op hierdie nimlike seun, wat as gedissiplineerde sportuitblinker ‘n navolgingswaardige voorbeeld is van wat deur harde werk en toewyding op die sportveld, met goeie gedrag, vermag kan word.



