Alberton se nuwe musiekgroep
Daar is 'n nuwe band in Alberton, Perspektief en hulle klank is suiwer en sterk. Die drie mans harmoniseer dat jou tone omkrul van lekker kry.
ALBERTON- Alberton spog met ’n nuwe musiekgroep, Perspektief, en as Arries, Dono en Becker harmoniseer, krul jou tone om van lekker kry.
“Ons klank is so lekker akoesties en ons speel kitaar, dromme, baskitaar en sing” sê Arries van Wyk.
Arno Becker het as student elke Saterdagaand in Malloney’s in Pretoria gespeel. “Ons is net drie ouens wat saam musiek wil maak oftewel ‘jam’ en mekaar se geselskap wil geniet. My familie is baie groot en as ons bymekaar kom dan sing ons altyd. Die pragtige harmonieë het my van kleins geïnspireer om te sing.”
Volgens Becker skryf die trio ook oorspronklike liedjies en sing meestal in Afrikaans, afhangende van wat die gehoor wil hê. Perspektief het verlede maand by die Garnaalfees in Komatipoort opgetree en is sommer daar en dan weer geboek vir volgende jaar! By die fees het die trio ’n potpourri uit die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bundel gesing en die gehoor het dit behoorlik geniet.
Donovan Murphy is die kuns- en musiekleier by Doxa Deo in Meyersdal. Dono, sy vrou en sy seun is redelik nuut in Alberton. “Ons geniet die koffie winkels, fliek graag by die Glen en kuier meestal by Becker-hulle”, lag hy.
Die musiekgroep is reeds genader om in Augustus by die Wynfees in Secunda en by die Komatiepoort Bierfees in Oktober op te tree.
“Ons kuier lekker en ons ‘jam’ lekker, as ons groot raak sal dit net ’n bonus wees”, sê ’n filosofiese Arries.
Indien jy Perspektief wil bespreek, stem die manne saam dat Becker graag met jou sal wil gesels. Skakel hom gerus by 082 828 6265.
Hou hierdie spasie dop vir ’n demo opname van een Perspektief se oorspronklike liedjies.



