
EK lees vandag weer oor die seuntjie wat aangerand is deur ander leerlinge in sy skool. Dit is deesdae ’n baie algemene gebeurtenis in ons skole.
Nie so lank terug was my seun in graad sewe deur een van die kinders in sy laerskool met ’n passerstel aangeval.
Die skool het my nie gekontak na die aanval nie, ek moes dit uitvind by die nasorgsentrum en my kind die volgende dag na ons huisdokter neem sodat hy ’n inspuiting kon kry.
My huisdokter was geskok en ontsteld toe hy na die steek merke kyk op my kind se arm.
’n Dag na die voorval het die skool hom deur die klasse gevat om die skuldige party uit te ken, maar hy kon nie meer onthou hoe die kind gelyk het nie. As hulle hom direk na die voorval deur die klasse gevat het sou hy dalk die kind kon uitken.
My kind het met ’n bloederige arm in sy klas gesit, maar ek was nie geskakel nie. Ek het in my kar gesit en huil van woede nadat ek by die naskoolsentrum ingelig was oor die voorval.
My seun is ’n depressiewe kind en hy probeer hard om aanvaar te word deur al die maatjies by die skool.
Ek vind gereeld uit by hom oor hoe sy dag was en wat hy alles gedoen het. Hy is op Concerta want hy het Taurette’s Sindroom en een van die newe-effekte is ADHD – so ek weet hy is ’n handvol as hy nie sy pillietjie neem in die oggend nie.
Hy word gesien as stout, maar hy sal nie enige kind leed aan doen nie. Daar is ’n verskil tussen stout en geweldadig.
Ek sit elke dag en wonder oor die veiligheid van my seuns. Wanneer word ’n passerstel, ’n mes of vuurwapen?
Gaan my kind net ’n statistiek word van kinders wat deesdae aangerand word?



