Totsiens aan Albertonrugby
Na 31 jaar se betrokkenheid by Albertonrugby, het die aandskemering op my laaste rugby-artikel toegesak.
Alberton Rugbyklub, wat op 20 Maart, 1912, gestig is, is vandag die oudste lewende sportklub in die dorp. Die klub beleef nou sy 104de bestaansjaar en sedert my betrokkenheid in 1984 roep ek graag die volgende hoogtepunte terug:
1984: Alberton haal die finale vier van die Grootuitdaagliga, na ’n 29-22 sege oor Goudstad, maar word onverwags deur RAU getroef wat vir die derde keer die top trofee in die betonkasteel van RAU (nou UJ) se kampus staangemaak het. Groot Springbokke soos Kevin de Klerk, Johann Strauss en ander rugbygrotes soos Corrie Pypers en Pote Fourie was deel van daardie span, wat nie die verowering van die Grootuitdaagbeker in 1982 as alleenhouer en 1979 en 1983 (gedeel) kon herhaal nie.
1987: In die klub se 75ste bestaansjaar, is die heel laaste groot klubrugby op die Piet Fickstadion in Tweedelaan beleef om ’n besondere era af te sluit.
1988: Op 19 Maart is die nuwe Albertonstadion, soos sportlui dit vandag ken, amptelik in gebruik geneem met ’n volsterkte Transvaalspan en ’n ewe sterk Alberton uitnodigingspan in aksie. Albertonname soos Freddie Oosthuizen, Manie Reyneke (reserwe) en Willie Steyn het vir die Albertonspan uitgedraf. Latere Springbokke Kobus Wiese, Johan le Roux en rugbygrotes Hendrik Truter, die skrumskakel Pieter du Randt, Mark Carlson en top SA atleet Warren McCann was in Transvaalkleure in aksie.
1989: Persoonlike rugbyhoogtepunte in nog ’n jaar van sportisolasie, was Hendrik Truter se aansluiting by Alberton, die Cravenweek in Transvaal met ’n tipiese Alberton onthaal vir die Suid-Oos Transvaal en Transvaal XV-spanne en my eerste koerantonderhoud met Alberton se eerste SA skolespeler in die geskiedenis, Ian de Ru.
Negentigerjare: Dit was nie Alberton se beste jare nie, maar die semi-finaal is in 1990 en weer in 1998 bereik en vir die eerste keer sedert die tagtigs speel Alberton in die Pirates Grootuitdaagfinaal in 1999 teen Randfontein op RAU-stadion. Groot hoogtepunte was egter die Alberton Ramkatte se 39-21 sege oor die Kwaggas tydens die voortreflike Prominent Paints rugbydag in April 1998, die 1999-ligasege oor RAU en die dag dat die Franse o.21 span teen die o.21 Goue Leeus span uitgedraf het, met die RECORD se koerantopskrif “Viva La France”. Die Franse wen met 24-17.
Na 2000: Die eerste helfte van die nuwe millennium was maer jare vir Albertonrugby, maar die Pumas met Casper Steyn se kanonskoot skopvoet in ’n Vodacombekerstryd teen die Leeus op 8 April, 2005, op die Albertonstadion is ’n aangename herinnering.
Hoogtepunte was ook Alberton se super 20-semi-finaal in 2006 teen Brakpan en die Baileybeker semi-finaal in 2007 onder Henk Venter se besielende voorsitterskap.
Na 2010: Nog ’n voorreg was die Quentin Moroney en Manie Reyneke-eras.
2015: Alberton A-Square Forklift verower die Kevin de Klerk-trofee.
Rugbyhoogtepunte beleef kan ’n boek volmaak, maar na 31 vreugdevolle jare word Albertonrugby nou gegroet. Dit was een sport wat so ’n integrale deel van die Alberton sportgemeenskap en myself vir 31 jaar was.
“Totsiens Albertonrugby en dankie vir ongelooflike herinneringe met die doellyn wat ek nou vir die laaste keer oorgesteek het.”
In repliek op my afskeidsgroet het A-Square-Forklift Alberton se rugbyvoorsitter, Manie Reyneke, gesê: “Peet se nalatenskap aan Albertonrugby is sy drie bundels van “Alberton rugby history in newspapers” wat hy vir die klub saamgestel het en vir die argiewe agtergelaat het. Dit bevat 104 jaar se geskiedenis van Albertonrugby, verwoord in sy gepubliseerde berigte oor al die jare.”




