Damesaand voorskou van Uitvlucht
Hoogs suksesvolle skrywer, regisseur en vervaardiger Regardt van den Bergh ('Faith like potatoes' en 'Klein Karoo') se nuwe Suid-Afrikaanse film, 'Uitvlucht', word op 13 Mei landswyd uitgereik.
HOOGS suksesvolle skrywer, regisseur en vervaardiger Regardt van den Bergh se nuwe Suid-Afrikaanse film, ‘Uitvlucht’, word op 13 Mei landswyd uitgereik, maar al die vroue (en ook mans) kan reeds nou uitsien na ’n spesiale dames-aand voorvertoning van ‘Uitvlucht’.
Die film sal vertoon word op Woensdag 4 Mei by die volgende teaters: Brooklyn, Pretoria; Mimosa Mall, Bloemfontein; Cradlestone Mall, Krugersdorp; Tygervallei, Kaapstad; Eastgate, Johannesburg; Kolonnade, Pretoria en Garden Route, George.
Besprekings kan gemaak word by www.sterkinekor.com/#/book/8107/Uitvlucht/
‘Uitvlucht’ vertel die verhaal van Anna (Clara Joubert van den Bergh), ’n konservatiewe middelklasvrou wat met vuur speel en alles wat saak maak in haar lewe verloor. Tydens haar reis om self-ontdekking en vergifnis, kry sy werk by ’n plaasskooltjie met die naam ‘Uitvlucht’.
Stelselmatig begin sy herstel en besluit om die lewe weer vierkant in die oë te kyk en ontmoet in die proses ’n saggeaarde, alleenloper-boer, Dok (Stian Bam) wat haar bevriend en haar weer in haarself laat glo.
Sy ontdek ook weer haar rede om bestaan soos sy nouer betrokke raak by die kindertjies se geluk en hartseer en tree op as heldin teen die swaar in hul lewens, onder meer molestasie, hul ouers en ander familielede se drankmisbruik, die gemeenskap wat die wet in hul eie hande wil neem en mense wat geen ontsag vir ander se swaarkry het nie.
Uitvlucht is ’n ware plaasskool in die voetheuwels van die Suurberge in die Langkloof in die Oos-Kaap. Soos baie plaasskole is daar geen hulpbronne nie en moeilike sosiale uitdagings vir die gemeenskappe insluitend alkoholmisbruik, kindermishandeling, ongeletterdheid en gesinsgeweld.
‘Uitvlucht‘ is ’n storie van hoop in ’n hopelose situasie, genade in desperaatheid, en van liefde wat alles oorwin.
Ander akteurs wat in die rolprent verskyn, is Jill Levenberg, Oscar Peterson, Lika Berning, Clyde Berning, Margot Luyt en Carel Trichardt.
Die film word landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.
Loer hier na die amptelike lokprent:
*Uitgereik deur Alicia van Deventer, Starburst Music.



