Allies speel hul harte uit
Alberton het ook drie keer strafskoppe afgestaan, wat Linden met ope arms aanvaar het.
HOËRSKOOL Alberton en Hoërskool Linden het mekaar vasgevat in hul eerste Leeus Groot Skole wedstryd, wat op Saterdag 7 Mei by Alberton plaasgevind het.
Van vroeg af het Alberton gesukkel om hul kanse te vat en in punte om te skakel, met Linden wat baas was met hul lynstaanballe en besit gereeld by die tuisspan weggevat het.
Alberton het ook drie keer strafskoppe afgestaan, wat Linden met ope arms aanvaar het.
Alberton se verdediging het redelik gehou totdat die besoekers halftyd ingegaan het met ’n voorsprong van nege punte.
In die tweede helfte was Allies ’n ander span, en het sommer twee drieë gaan druk, een deur hul kaptein, Lunga Molele en nog een deur Caltino Jones, wat ook een van die drieë verdoel het om nog twee punte op die telbord te kry en sodoende Allies te laat voorloop teen die sterk opponente wat onlangs die NWU Pukke Super 16 gewen het.
Linden se verdediging het goed gehou in die gesig van die Albertonners wat die oorwinning wou verseker, maar die kanniedood Linden-span het skielik teen die vloei van spel ’n drie gaan druk en die besoekers weer met 14-12 die voortou laat neem het met net ’n paar minute oor op die klok.
Allies het tot die doodsnikke met soveel murg gespeel dat dit te veel was vir Linden om hul te weerhou en Ruan Muller het net voor die eindfluitjie ’n goeie verwerkte drie deur Allies gaan druk om die wedstryd 17-14 te wen.
Drieë vir Alberton: Lunga Molele (1), Caltino Jones ( 1) en Ruan Muller (1);
Verdoel: Caltino Jones (1);
Drieë vir Linden: Tyron Erasmus (1);
Strafskoppe: D Bakkes (3).
Ander resultate: Alberton teen Linden: 0.14: 28-8; 0.15: 31-22; 0.16: 12-25; tweede span: 47-8.
*Inligting en foto verskaf deur Wayne Raath.



