’n Lied wat luisteraars gaan aanraak
Die temalied van die nuwe fliek, 'Eintlik Nogal Baie', is op 15 Augustus vrygestel en is die begin van groot dinge vir 1925Band.
DIE temalied van die nuwe fliek, ‘Eintlik Nogal Baie’, is op 15 Augustus vrygestel en is die begin van groot dinge vir 1925Band.
1925Band is spesiaal deur die vervaardigers genader om deel te wees van die projek. “Ek en die regisseur is ’n ruk terug deur 1925Band genader om vir hulle ’n musiekvideo te maak. Ons het toe meer gaan uitvind oor hierdie groep, wat hoofsaaklik in kroeë in en rondom Centurion speel, en was baie beïndruk met hulle optrede en die harmonieuse manier waarop hulle saamsing. Daarom het ons besluit om vir hulle die geleentheid te gee om ’n temalied vir die fliek, waarmee ons besig was, te skryf en die eerste demo het ons asems weggeslaan. Daarna het ons dadelik saam met hulle begin werk,” het Jarrod de Jong, mede-skrywer en vervaardiger van dié nuwe romantiese komedie, gesê.
1925Band bestaan uit drie musikale broers, Reno, Jeff en David-Lee Gericke, wat in 2010 besluit het om professioneel te begin musiekmaak. Hulle styl kan hoofsaaklik as akoestiese folk beskryf word en die harmonieuse manier waarop hulle stemme by mekaar inskakel, asook die gevoel wat in elke liedjie na vore kom, is juis wat hulle musiek so lekker maak om na te luister. “Ons skryf musiek met baie emosie in die lirieke en melodieë en ons wil hê dat elkeen wat daarna luister dit moet voel. Dit is immers wat van liedjies treffers maak en waarmee luisteraars kan identifiseer,” het Reno, die ouboet van die groep, verduidelik. “David en Jeff skryf die meeste van die liedjies en word gewoonlik geïnspireer deur alledaagse gebeurtenisse, verhoudings en ervaringe van onsself en ander mense.”
David se meisie was oorspronklik die inspirasie agter die liedjie, ‘Eintlik Nogal Baie’. “Ons is gevra om die temalied van die fliek te skryf en het besluit dat ons ’n bestaande liedjie gaan gebruik en hier en daar ’n bietjie gaan verander sodat dit perfek pas. Die liedjie gaan oor hoe vêr ’n mens sal gaan om geluk te vind en hoe lief jy kan raak vir iemand. Die ou wil ’n meisie hê om alles saam met hom te doen. Hy soek haar, die perfekte meisie, en wanneer hy haar kry, is hy gelukkig. Die wysie van die liedjie is vars en anders en luisteraars sal kan saamsing, maar ook terselfdertyd verlief, hartseer en opgewonde wees, wanneer hulle daarna luister,” het Reno verklap.
Die fliek is gebaseer op ’n draaiboek met die naam ‘Ally’. Jarrod het die karakters geskep en die storie is gelaai met ’n goeie balans van romanse, komedie, aksie, spanning en tragedie. “Die storie gaan oor Jay van Niekerk (André Lötter), ’n aantreklike, maar teruggetrokke strokiesboek-illustreerder wat sy lewe baie deeglik onder beheer het. Hy kom egter voor ’n kruispad te staan en wanneer hy vir Ally (Marisa Drummond) ontmoet, met haar oorbeskermde pa en haar eks-kêrel, word sy lewe vir altyd verander op die dramatiesste manier. Kykers moet definitief genoeg sneesdoekies saam vat wanneer hulle die fliek gaan kyk,” het De Jong gesê.
‘Eintlik Nogal Baie’ is vervaardig in samewerking met die Nasionale Film en Video-stigting en die Departement van Handel en Nywerheid en word deur Times Media Films versprei en die regie is behartig deur Jacques Brand (‘The Blanket’, ‘Die Laaste Ure’). Die film word op 24 Augustus om 16:00 by die kykNET Silwerskermfees vertoon in Kampsbaai asook internasionaal by die Ghent Filmfees in België voor dit op 4 November in fliekteaters, regoor die land, vrygestel word.
1925Band stem saam met Plato dat musiek die siel van die heelal is, net soos wat hulle enkelsnit deel is van die hart en siel van hierdie splinternuwe Afrikaanse fliek.
*Mediavrystelling deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions verskaf.
U mag ook in die volgende belangstel:
*albertonrecord.co.za/100702/modder-en-bloed-temalied-en-lokprent/;
*albertonrecord.co.za/97100/temalied-vir-nuwe-film-vrygestel/
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.



