Nagligte, word met Bokkie-toekennings vereer
Die rockgroep, Nagligte, het op Saterdag, 1 Oktober, weggestap met twee Bokkie-toekennings, naamlik vir Nuweling van die Jaar en Groep van die Jaar.
DIE rockgroep, Nagligte, het op Saterdag, 1 Oktober, weggestap met twee Bokkie-toekennings, naamlik vir Nuweling van die Jaar en Groep van die Jaar.
Die jaarlikse Bokkie-toekennings is die grootste Afrikaanse musiektoekenningsgeleentheid in die Wes-Kaap en word aangebied deur Bok Radio. Die geleentheid het plaasgevind by die Grand West Casino.
“’n Groot dankie aan Bok Radio vir ons twee toekennings. Ons is groot aanhangers van die stasie en waardeer alles wat julle doen vir Afrikaanse musiek. Dankie vir julle ondersteuning en vir al ons ondersteuners wat vir ons gestem het! Rock uit met jou blokfluit,” het die groep gesê.
Die drie lede, Jacobus ‘Roof’ Brink (voorsanger, kitaar en klavier), Wynand Jonker (kitaar) en Daniël ‘Eddie’ Brink (dromme) se debuutalbum, ‘Hoop in die Donker’, is gedurende die tweede helfte van 2015 uitgereik en het onmiddellik aandag getrek. Die eerste enkelsnit, ‘Dit Stop Nou’, was ’n kitstreffer en het vir weke lank bo-aan die trefferparades van bekende radiostasies gepryk. Die album het ook gelei tot twee Ghoema-benoemings vir Nuweling van die Jaar en Beste Alternatiewe Album en verskeie optredes saam met van die room van Suid-Afrikaanse musiek. Ander treffers op die album sluit in ‘Ongeloof(lik)’, ‘Skyn’, ‘Veg en Skree’, ‘Vir Nou’, ‘Konsentreer’, ‘Bly’, ‘Hoop in die Donker’, ‘Die Roepstem’, ‘Hou Dit Teen My’, ‘Beter Dae’ en ‘Een Saam’.
Die groep het die afgelope ruk gesig gewys op ‘Jou Show met Emo en Bravo’, op die glansblaaie van ‘Rooi Rose’ gekuier en spesiale optredes gedoen by KKNK, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Hoërskool Randburg. Nagligte beskou dit as groot hoogtepunte in hul loopbaan sover. “Die musiekbedryf het ons baie geleer oor deursettingsvermoë en geduld. Dit is ’n moeilike bedryf en jy kan eenvoudig nie op jou louere rus nie. Om in ’n band te speel, is soos om ’n klein besigheid te bestuur. Dit vereis konstante vindingrykheid om aktueel te bly en maniere te vind om jou naam daar buite te kry. Tussen dit alles deur, moet jy onthou om jouself te geniet, want dit is eintlik die rede hoekom ons dit doen,” het Wynand gesê.
Nagligte se derde enkelsnit, ‘Vir Nou’, en die nuwe musiekvideo, word binnekort bekendgestel en hulle hoop dat dit net soveel golwe gaan maak soos die vorige twee.
*Vrygestel deur Monica Steyn van MS Publicity.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



