EntertainmentLifestyle

Hierdie snit gaan jou hoendervleis gee

Ter viering van ’n suksesvolle dekade in die musiekbedryf, het die groep pas ’n nuwe enkelsnit bekendgestel.

NET soos wat die pragtige kleure en vorms van ’n kaleidoskoop ’n baie spesiale bekoring inhou, net so het hierdie talentvolle akoestiese musiekgroep Kaleidoskoop dit reggekry om die afgelope 10 jaar die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower.

Hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde (Beste Kontemporêre Album 2012) en Ghoema-genomineerde (Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album, Musiekvideo van die Jaar) sang-duo is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n hoendervleismooi akoestiese klank, gemeng met ’n magiese kombinasie van melodieë en instrumente – wat nie net aanklank vind by gehore van alle ouderdomme nie – maar ook getuig van hulle talent, passie en sinergie.

Die groep, wat tans bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique Jordaan, is in 2006 gestig toe die oorspronklike lede (Jouba en Gerhard Liebenberg) albei nog op universiteit was. Alhoewel hulle in 2007 die album, Bladwisselend, vrygestel het, is alle optredes in 2008 gestaak omdat Gerhard die groep verlaat het om sy beurs in Namibië te gaan terugwerk.

Dit was eers toe Anique in 2009, as medesanger aangesluit het dat Kaleidoskoop weer voltyds (in 2010) hulle passie vir musiek hervat het. Sedertdien het dié duo diep spore in die musiekbedryf kom trap, heelwat sukses geniet en die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars soos Mathys Roets, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Drie Van Die Bestes, Lize Beekman, Adam Tas, Chris Chameleon en vele meer. Buiten vir die talle benoemings, toekennings en radiotreffers op hulle kerfstok, geniet die sangpaar se musiekvideo’s ook groot sukses op sosiale media.

Ter viering van ’n suksesvolle dekade in die musiekbedryf, het die groep sopas ’n nuwe enkelsnit, Wegbreek, bekendgestel wat deel vorm van die splinternuwe album waarmee aanhangers in Maart 2017 bederf gaan word. Hierdie goedvoel-snit (’n gesamentlike poging deur Jouba Jordaan en Christiaan Baartman) het ’n opgewekte folk-popaanslag, wat nie net in jou kop vassteek nie, maar jou ook onwillekeurig sal laat saam neurie. “Die titel van die liedjie spreek vanself.

Dit gaan oor die neiging wat almal het om nou en dan weg te breek uit die stad of dorp om uit te span by die see of met ’n grondpad êrens perspektief, eenvoud en ook vrede te gaan vind,” het die duo vertel. “Ons kom albei van die platteland af, so ons verlang gereeld na die plaas en die klein dorpies waar ons vandaan kom. Ons mis die eenvoud en rustigheid van die lewe in die platteland, dus gaan die liedjie daaroor om nuwe perspektief te gaan vind. Dit verwoord wat in ons harte aangaan as die tye in die stad te lank raak.

Die lirieke van die lied sal nostalgie aanwakker in enigiemand wat spore van avontuurlustigheid in hul are het…wat maar by ons almal ingebore is, maar wat soms nie aangewakker is nie. Die goedvoel ritme en melodieë van die lied, asook snaarinstrumente soos die banjo en mandolien skep dadelik ’n lekker plaas- of seevakansieatmosfeer. Dis die perfekte liedjie om in die kar te luister wanneer jy die langpad vat.”

Alhoewel die komende album nog nie ’n titel het nie, is hulle baie opgewonde oor hierdie projek. Soos met hulle vorige albums, gaan dit ook fokus op die lewe, liefde en menswees en voortbou op die akoestiese wenresep waarvoor hulle bekendheid verwerf het.

“Ons het met ons vorige oorspronklike album bietjie geëksperimenteer met ligte elektroniese klanke, maar tog nie ons akoestiese aanslag prysgegee nie. Met die nuwe CD het ons ’n bietjie wegbeweeg van die elektroniese styl en sterk gewoeker met ons diepgewortelde akoestiese aanslag. Ons het ook hier-en-daar die hartseer van die lewe – wat natuurlik ’n realiteit is – aangeraak en steeds probeer om mense te inspireer. Ons wil tuisbring dat jy tog in hartseer en moeilike tye hoop het om aan vas te hou en steeds die mooi in die lewe kan raaksien,” het hulle verklap.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button