Egpaar vier 50 huweliksjare
“As ek weer moes kies, sou ek weer vir Frans gekies het en sommer nóg 100 jaar met hom deurgebring het.”
VERWOERDPARK inwoners Frans en Lettie Ballack vier hul 50ste huweliksherdenking op 9 Desember – voorwaar ’n mylpaal!
Lettie (71) het vir Frans (74) ontmoet toe sy, nadat sy met haar matriek klaargemaak het, met vakansie na Amanzimtoti gegaan het. Hier het hulle sommer net gekliek, verlief geraak, en die res is geskiedenis.
Intussen was Lettie ’n onderwyseres en Frans het in die elektriese installeringbedryf gewerk. Hulle is die trotse ouers van twee seuns, Adriaan en Carel-Fritz, een laat seun, Hein, en vyf kleinkinders. Hulle is ook reg om amper saam af te tree.
“Ons kyk rond by aftree-oorde op die oomblik, want ons beplan om miskien oor so ’n jaar se tyd te trek,” sê Lettie. “Ek is lief vir die binneland en sonskyn en ek sal glad nie omgee om Pretoria-Oos toe te trek nie, maar Frans is nog altyd lief vir Johannesburg en weier om hier te trek,” sê sy met lag in haar stem.
Frans en Lettie sê hulle is baie geseënd om sulke slim kinders en kleinkinders te hê, en dan natuurlik ook om vir 50 jaar te kon saamstaan.
“Dit voel nie veel anders as gister, om vir 50 jaar getroud te wees nie,” sê Lettie terwyl Frans vir haar glimlag.
“Al hoe ek opnuut besef hoeveel tyd verby gegaan het, is as ek in die spieël kyk en sien hoe grys my hare al is,” lag sy.
“As ek weer moes kies, sou ek weer vir Frans gekies het en sommer nóg 100 jaar saam met hom deurgebring het.”
En Frans knik sy kop in ooreenstemming.



