Chris Sutton verower wêreldtitel vir die tweede keer
Veteraanstoeier Chris Sutton het pas van die veterane wêreldkampioenskap in Sarajevo met sy tweede goue medalje in vier agtereenvolgende toernooie teruggekeer.
ALBERTON kan tereg spog met ‘n tweemalige wêreldkampioen in stoei.
Hy is veteraanstoeier Chris Sutton, wat pas van die veterane wêreldkampioenskap in Sarajevo, Bosnia Herzeqovina met sy tweede goue medalje in vier agtereenvolgende toernooie vanaf 2010 tot 2013 teruggekeer het.
Tydens die vorige toernooie het Chris brons in 2010 in Switserland, silwer in 2012 in Hongarye en goud 2011 in Albanië en weer vanjaar goud in Sarajevo verower.
Chris, lid van Alberton Amateur Stoeiklub, was een van die wêreldkampioene uit die twaalf stoeiers wat Suid-Afrika verteenwoordig het.
Chris se gevegte by die wêreldkampioenskappe het soos volg verloop:
Chris Sutton wen sy eerste geveg teen Vladimir Litvinenko van Rusland.
Vladimir se linkerknie word na 57 sekondes van sy wedstryd teen Chris Sutton, sodanig beseer dat hy nie kon voortgaan om te stoei nie. Chris het het met die aksie twee punte verdien en met die oorwinning na die semi-finaal van die meesters kampioenskappe deurgedring.
Chris Sutton voer die botoon in sy tweede geveg teen Volodymyr Ohloblin van die Ukraine.

*Fotos verskaf.
Volodymyr teken vinnig punte aan en loop binne die eerste 30 sekondes met 4-0 voor. Chris Sutton moes hard werk om punte aan te teken. Met rustyd (na 3 minute) loop Chris met 8-4 voor.
Na een minuut en 15 sekondes in die tweede ronde, oorskadu Chris sy teenstander met 12-4, wat die einde van die wedstryd meebring. Met hierdie oorwinning dring Chris Sutton deur na die finaal.
In die finale geveg kom Chris Sutton te staan teen verlede jaar (2012) se wêreldkampioen Igor Zadneprynnyy van Kazakstan.
Na een minuut en 30 sekondes, pen hy vir Igor vas en word die Albertonner die 85-97 kg “C” afdeling se wêreldkampioen.



