Local sportSport

Alberton bo hul teenstanders

A-square Forklifts Alberton se senior rugbyspan het sy trots en passie op ‘n soel Vrydagaand op die Albertonstadion herwin. Vir die eerste keer in drie probeerslae in vyftienmanrugby vanjaar was Alberton bo teen hul teenstanders.

ALBERTON – A-square Alberton was 26-16 bobaas teen Polisie, nadat hulle rustyd reeds met 14-11 voor was. Sjoe, dit was lekker om weer agter ‘n Alberton wenspan te kon staan. Benoude oomblikke was daar egter ook vir Albertonondersteuners.

Na tien minute van die afskop het Alberton bloed geruik, danksy ‘n welkome terugkeerdrie van Anton Vlok, wat Ryno Brits verdoel het om 7-0 voor te loop. Dit was lekker om herinneringe van die vorige seisoene terug te roep, met Anton terug vanaf Boksburg en die Valke, wat langs die kantlyn afsuiker doellyn toe. Hopelik gaan ons nog baie Anton Vlok-juwele vanjaar aanskou.

Nadat Polisie met twee strafdoele teruggeslaan het, kom die Anton Vlok-towerkrag weer in werking om vanaf die losskakel Kenneth du Plessis, vanaf Wits Varsitybekerspan, vir Ryno Brits oor te stuur om Alberton 14-6 te laat voorloop. Ryno Brits was weer sekuur met die doelskop. Vlak voor rustyd is dit Polisie se beurt om te druk 14-11.

Vir sowat 30 minute van die tweede helfte staan die telbord stil, voordat Polisie na volgehoue druk die doellyn oorsteek om vir die eerste keer 16-14 voor te loop. Die tuisspan se skitterende agterlyn verlig egter Albertonondersteuners se angs met nog twee vinnige drieë in die laaste vier minute, deur Kenneth du Plessis en plaasvervanger-skrumskakel Marcus Wiese, wat skrumskakel Donovan Putter vervang het, om die spreilig-telbord te laat blink op 26-16 in Alberton se guns.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button