EntertainmentLifestyle

Groot musiekkonsert in Burgersentrum

Op 23 September, die vooraand tot ons Nasionale Braaidag, word die grootste musiekkonsert nog in die Albertonse Burgersentrum aangebied.

ALBERTON – Elvis Blue is die hoofkunstenaar van die aand en het geen bekendstelling nodig nie. Hierdie Idols-wenner sal liedere van sy nuwe album Afrikaans op hierdie aand sing.

Tanya Vilancé sal in die voorprogram op tree en is ‘n kunstenaar wat vinnig besig is om haar merk in die musiekbedryf te maak. Sy tree gereeld as voorsanger saam met die Parletones op, en sing musiek wat by die hele gesin aanklank vind, van Afrikaans tot Engels, country, kontemporêr en rock.

Hierdie uitstekende kunstenaar waarborg genot vir die hele familie. Sy sing ook die Afrikaanse weergawe van die Eurovision lied, Euphoria, wat in 2012 as die beste lied bekroon is.

Gerhard Steyn tree ook in die voorprogram op en sing saam met sy nuwe duetsangmaat Anais ‘n lied of twee van hul nuwe album, Liefdesoorlog.

Die konsert word ten bate van die Cantare Kinderkoor gehou om fondse in te samel vir hul koorlede om in 2016 aan die Wêreldkoorspele in Sochi, Krasnodar Krai, Rusland, te laat deelneem.

Heerlike verversings sal te koop aangebied word.

Ander jong kunstenaars wat die aand op ‘n hoogtepunt inlei, is Tamlyn G, Donae Brazer, Tiaan Nortje en Jessica Venter. Hulle was almal voorheen koorlede van die Cantare Kinderkoor en is besig om opgang in die musiekbedryf te maak.

Kaartjies vir hierdie konsert kan by Computicket bespreek word en die pryse is van R60 tot R130.

Daar is veilige parkering beskikbaar. Inligting en ‘n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by 082 2571407.

Kaartjies is ook by meeste van die skole in die omgewing beskikbaar om hul skoolfondse te versterk. Kom ondersteun hierdie gemeenskapsprojek.

Besighede en borge word genooi om deel van van die aand te wees vir advertensie van besighede en uitstallings van produkte. Skakel 011 908 5616 of 082 257 1407 vir meer inligting.

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button