Klipkoppiefees vier 10 jaar
Na 10 suksesvolle jare waarin die Klipkoppiefees elke jaar net bly groei, is alles vanjaar nog groter en beter.
ALBERTON – Na verwagting sal sowat 20 000 mense deur die loop van die naweek die fees besoek om hulself te verlustig aan smul-lekker eetgoed, musiek uit die boonste rakke te geniet, verskeie 4×4 roetes aan te durf en sommer net gesellig as gesinne en families te kuier.
Die nuutste toevoeging tot die fees is Sondag se Gospelfees.
Met uitsoek talent in die Suid-Afrikaanse Gospelmark, gaan geeneen wat Sondag ‘n draai maak teleurgesteld wees nie. Kunstenaars se optrede sal bestaan uit 75 persent gospel en 25 persent kontemporêre musiek sodat daar iets vir almal sal wees.
Regdeur die naweek hoef ouers nie bekommerd te wees oor hul kinders nie. ‘n Yslike kinderpretpark, wat bykans een ‘n halwe rugbyveld beslaan, bied meer as genoeg om die jongklomp besig te hou. Springkastele, rekspring, ‘n groot glybaan en vele meer sal hulle teen die einde van die dag, poegaai in die bed laat inkruip.
En wanneer pa en ma so op eie stoom tussen die stalletjies wil deurloop, sal die bekwame personeel van Ligstsad, die Christelike Maatskaplike Raad en die Alberton Kinder- en Gesinsorg, met plesier na jou kroos omsien.
Hier sal hulle met verskeie aktiwitiete besig gehou word en nie een vervelige oomblik hê nie.
Drie 4×4 roetes om van te kies
Met 412 4x4s wat in 2014 aan die roetes deelgeneem het, het Klipkoppiefees se 4×4 byeenkoms onoffisieël die grootste 4×4 byeenkoms in die land geword. Dit is slegs onoffisieël omdat hulle nie by ‘n groter organisasie geregistreer is nie.
Vir die 4×4 entoesiaste is hierdie fees een wat met afwagting op die kalender aangeteken word. Die 4×4 skattejag vir gesinne begin vroegdag op Saterdag, met wegspring tot 13:00.
Die roete vat jou deur die veld tot bo op die berg, waar jy die pragtige natuurskoon kan geniet, en jou uitsig strek tot in Vereeniging en Kempton Park. ‘n Totaal nuwe pad is vir hierdie roete gebou.
André se speelgat is oudergewoonte weer daar. Maar wag, daar is nog meer! Beproef jouself tot op die uiterste.
André de Villiers van KykNet sal jou presies wys waartoe jou 4×4 instaat is. Hier word 4×4’s tot die uiterste beproef en dit is nie vir die ”faint-hearted” nie!
Of, soos André dit sal beskryf: “Die baan is so gebou om tegnies te kan wys waartoe jou voertuig in staat is, maar net genoeg om dit nie te breek nie.”
Jou veiligheid is verseker
Met meer mense wat verwag word, parkeerplek wat vergroot is sodat dit ‘n ekstra 800 voertuie kan akkommodeer, is veiligheid hoog op die lys van prioriteite vir die organiseerders. Veiligheid is so verskerp dat uitsmyters op die gronde sal rondbeweeg, en enigeen wat nie op die fees hoort nie, sal sonder vrae verwyder word.
Skanderings sal by die hekke plaasvind en die organiseerders vra asseblief die publiek se samewerking wanneer dit by die skanderings kom.
Noodhulp personeel, net vir ingeval, is ook op die gronde.
Terloops, toegang tot die feesgronde sal die jaar vlot verloop. Die pad is verbreed sodat daar vier bane beskikbaar is.
Iets vir almal
As die manne gedink het hulle gaan Saterdag se groot rugbywedstryde as verskoning gebruik om nie die fees by te woon nie, is daar nuus vir hulle. Vier 1.5m LED televisieskerms in die biertent omgewing sal verseker dat jy nie een beweging op die rugbyveld misloop nie. Jy kan dus rustig jou biertjie en die rugby saam met vriende en familie geniet.
Die eetgoed is om van huistoe te skryf. Die tradisionele, soos pannekoek, kerrie-en-rys en dies meer sal altyd ‘n wenner wees. Maar daar is ook ‘n paar ander, soos die Ribbes tussen die Klippe, Kobus se Gat, reg uit Oudtshoorn, en ander kosstalletjies wat al die pad van die Kaap en Jeffreys kom. Soos die ou mense sou sê, gebottel en gebak om van te droom. Alles wat by hierdie fees beskikbaar is, is uitgesoek om net die beste aan besoekers te lewer.
Die sowat 100 uitstallers se produkte is gekeur. Alles is handgemaakte ware en geen ”knick-knacks” sal op die mark te koop aangebied word nie.
Vir die wat die buitelug geniet is daar sowat 30 groot uitstallers wat jou alles bied waaraan jy kan dink.
Kamp- en braaitoerusting, motors, karavane – noem dit, dit is daar.
Sien jou dus volgende naweek by die Klipkoppiefees!



