Local sportSport

‘n Gholflegende in eie reg

Vandag maak ons kennis met die bekende Alberton man, wat minder bekend is vir sy legendariese vertonings op die gholfbaan.

ALBERTON – Hier ter sprake is Jakkie van Niekerk, inwoner van Southcrest sedert die sewentigerjare, en dagbestuurslid by Alberton LewenSentrum, in Meyersdal, sedert die stigting daarvan 16 jaar gelede.

Wat nog minder bekend is van die innemende Jakkie en sy pragtige ander helfte, Monica, is dat beide getel het onder die heel eerste geskiedkundige groep studente wat met die opening van RAU (vandag UJ), in 1968, daar gestudeer het en wel op die ou Braamfonteinkampus, in Ameshoffstraat.

Verder was sy vrou onder die naam Monica Walters soos dit in die argiewe opgeteken staan, die universiteit se heel eerste joolkoningin, 47 jaar gelede.

Maar die fokus van vandag se reis is saam met Jakkie.

“Aangesien ons vier seuns moes grootmaak, het ek eers op 40 begin gholf speel,” het hy vertel.

”As jong man het ek ‘n Putt-Putt baan bestuur, waar ek nogal leer set het, en dis nog steeds tot vandag my sterkpunt. Ek het al op 236 verskillende bane in 20 lande my stokperdjie gholf gespeel.

“My eerste kolhou was voordat ek twee jaar lank gespeel het, en ek het reeds vier van hulle op my kerfstok, waarvan my derde nogal op die derde dag van die derde maand was.

”Die grootste plesier was ‘n voëltjie op die ‘road hole’, of te wel die 17de op St Andrew’s – die beroemde Britse Ope baan.

”Ek moet darem noem dat voor ons op die 18de afgeslaan het, het ek 12 ouens in SA gebel om die nuus uit te blaker.”

Jakkie en Monica het intussen na Mosselbaai verhuis, maar hy het nog steeds rekenmeester-belange in Alberton en dien steeds, vanuit die Suid-Kaap, op die dagbestuur van die ALS Gemeente in Alberton.

So speel hy elke jaar ‘n groot rol met sy bydrae tot die aanbied van die Alberton LewenSentrum se jaarlikse, en immer gewilde gholfdag, ter fondsinsameling.

Voorwaar ‘n ryk nalatenskap van ‘n besondere Albertonmens hier uit ons kontrei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button