Albertonsport se eie Laurent-man
Springbok rugbyster Schalk Burger is vroeër vanjaar bekroon met die internasionale Laurent-toekenning vir sportdapperheid.
ALBERTON – Dit is die hoogste toekenning in wêreldsport aan ‘n sportman, soos Burger wat sy ernstige siekte, teenslae en struikelblokke in sy lewe en gesondheidstoestand oorkom het, om weer na die sportveld terug te keer.
Sou Albertonsport ooit ‘n Laurent-toekenning gehad het, dan moet Brian Barnard, staatmaker van Alberton Krieketklub daarvoor kwalifiseer.
Barnard was, net voor hy Engeland toe sou vertrek vir sy jaarlikse graafskapklubseisoen, ernstig in ‘n motorongeluk beseer. Hy was in ‘n koma, vir lank in die intensiewe-eenheid en was van hospitaal na hospitaal oorgeplaas. Trauma van die ergste graad moes deur hom ontbeer word.
Al die teenslae ten spyt, het Barnard weer in die nette begin krieket oefen.
Hy is steeds ongelooflik positief en durf weer alles aan wat na sy kant kom.
Hy het ook betyds herstel om met toekennings en sertifikate by die Alberton Krieketklub se prysuitdeling vereer te word. Hy is voorwaar ‘n pragtige voorbeeld van “nie hoe mens val nie”, maar “hoe mens weer opstaan”.



