EntertainmentLifestyle

Daniel se hart klop vir Afrikaans

Die gewilde Suid-Afrikaanse trefferlys koning, Daniel Baron, het sy eerste Afrikaanse enkelsnit, HART, ’n betekenisvolle ballade, op 22 Januarie op iTunes uitgereik.

DIE gewilde Suid-Afrikaanse trefferlys koning, Daniel Baron, het sy eerste Afrikaanse enkelsnit, HART, ’n betekenisvolle ballade, op 22 Januarie op iTunes uitgereik.

Dié enkelsnit is ook op 25 Januarie aan radiostasies landswyd uitgereik. Baron beskryf HART, ’n baanbrekerskuif in sy loopbaan, as ’n liedjie wat handel oor “’n langafstandvriendskap en hoe ware liefde nooit kwyn nie, ongeag van hoe vêr ’n mens is van die een vir wie jy lief is.”

Hoewel hierdie sanger en liedjieskrywer al verskeie musiekhoogtes bereik het, betree hy nou nuwe grond wat steeds vir die luisteraar hoendervleis gaan gee as gevolg van Baron se kenmerkende klank, onmiskenbare stem en diep lirieke.

“Ek is ’n groot ondersteuner van Afrikaanse musiek en hoewel ek ’n Engelse kunstenaar is, wou ek nog altyd my eie Afrikaanse liedjie skryf en vervaardig,” verduidelik Baron.

Baron is een van die gewildste Suid-Afrikaanse sangers op eie bodem en ook in Amerika en Brittanje. Sy trefferliedjie “Indestructible” is onlangs vanaf sy jongste album “Apollo” vrygestel en word gereeld op radiostasies gehoor.

Kort na die triomf van “Indestructible”, het Baron nog sukses bereik met die liedjie “Say What You Want”, wat hy saam met die immergewilde Afrikaanse popgroep ADAM (Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynardt Hugo) opgeneem het. Die liedjie vorm deel van hul kortspeler, “Yound And Wild”, wat einde 2015 uitgereik is en is ook as deel van die klankbaan in die rolprent Vir Altyd, wat landswyd op 12 Februarie uitgereik word, opgeneem. Hierdie enkelsnit is op 6 Junie, 2015, in Suid-Afrika, Holland, België en Luxembourg vrygestel en het oornag ’n treffer geword – binne ’n paar uur na die vrystelling daarvan het dit die nommer 13-posisie op die iTunes Coca Cola Top 40 bereik.

Afgesien van vele ander benoemings het Baron ’n Wawela Musiek Toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar en Liedjieskrywer ontvang en is hy genomineer as Beste Skrywer en Kunstenaar vir Beste Klankbaan in ’n Vollengte Rolprent of Teatrale Dokumentêr vir “Stuck”.

Nou, met sy toetrede tot die Afrikaanse mark, hou almal asem op om te sien watter hoogtes hy nog gaan bereik.

“My ondersteuners dring nou al vir ’n ruk daarop aan dat ek ’n Afrikaanse enkelsnit opneem, en ek is regtig opgewonde om dit finaal vry te stel,” sluit Baron af.

LUISTER NA HART HIER: https://itun.es/za/o2H__

LEES OOK:

Hoërskool Dinamika welkom Anais

Lance James kuier by LewenSentrum

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button