Lusmaker vir temalied van nuwe fliek, Uitvlucht
'Bou aan liefde', die amptelike temalied van die nuwe Afrikaanse film Uitvlucht, is onlangs bekendgestel.

BOU aan liefde, die amptelike temalied van die nuwe Afrikaanse film Uitvlucht, is op Maandag, 8 Februarie, op Groot FM bekendgestel en kon slegs na geluister word op 9 Februarie deur kykNET.tv
Vanaf Woensdag, 10 Februarie, sal die liedjie landswyd aan radiostasies uitgereik word. Vaughan Gardiner, bekende sanger, liedjieskrywer en vervaardiger, het hierdie pragtige lied spesiaal vir Uitvlucht geskryf.
“Dit is ’n ongelooflike voorreg om hierdie liedjie in Uitvlucht te hê,”sê Vaughan. “Alishia van Deventer van Starburst Promosies het my gekontak en gevra of ek belang sal stel om die temalied te skryf en ook om die liedjie te sing,” voeg hy by.
Uitvlucht se regisseur en vervaardiger, Regardt van den Bergh, se nuutste aflewering is ’n drama wat die verhaal vertel van Anna (Clara Joubert van den Bergh) wat alles in haar lewe verloor weens ’n misstap, maar dan werk kry by die plaasskooltjie, ‘Uitvlucht’.
Met die ondersteuning van ander onderwysers en Dok (Stian Bam), ’n vriendelike boer wat die skool besoek en haar bevriend, leer sy om haarself te vergewe en begin aanvaar dat iemand dalk weer lief vir haar kan wees. So raak sy betrokke by die skoolkinders se lewens en hul hartseer en probeer vir hul ook redding bied.
“Ek en my vrou Nerine het die rowwe weergawe van die film gekyk en dadelik geweet wat die gevoel van die liedjie moet wees. Sy het weggespring met die lirieke en dit was sommer vir my maklik om die regte melodie vir die liedjie te skryf, want dit is ’n film wat ’n mens nie net kyk nie, maar wat jy ook voel,” sê Vaughan.
Uitvlucht is ’n storie van hoop, genade en van die liefde wat alles oorwin. Oscar Petersen, Lika Berning, Clyde Berning, Margot Luyt en Carel Trichart is ook te sien in die rolverdeling.
Uitvlucht word op 13 Mei in Suid-Afrika deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.
LUSMAKER: https://soundcloud.com/starburstpromotions/bou-aan-liefde-vaughan-gardiner-uitvlucht-teaser/s-KVgW8



