Sarah vier 100 goue jare
Volgens Hettie is haar ma ’n sterk vrou met ’n positiewe uitkyk op die lewe.
TANNIE Sarah Pienaar-Breytenbach het op Sondag 20 Maart haar 100ste verjaarsdag saam met vriende en familie by die Reading Buiteklub gevier.
Sy is al vir 35 jaar ’n Albertonner en op die ouderdom van 100 jaar spog sy steeds met ’n helder verstand.
Haar dogter, Hettie Oelofse, beskryf haar as ’n vriendelike, liefdevolle, deernisvolle en fantastiese ma. “Jy sal haar nie hoor kla nie en tot vandag toe is daar niks fout met haar hande nie, sy bly besig.”
Tannie Sarah het tot op die ouderdom van 96 nog beertjies en komberse vir welsynkinders gebrei en gehekel, maar weens haar sig wat verswak het, moes sy ophou.
Haar man is 29 jaar gelede oorlede. Uit hul huwelik is drie kinders gebore, waarvan een vier jaar gelede dood is.
Verder het sy vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders. Tannie Sarah woon tans by een van haar dogters in Meyersdal en dit gaan baie goed met haar gesondheid.
Volgens Hettie is haar ma ’n sterk vrou met ’n positiewe uitkyk op die lewe.
“Ons kan God net dank vir die 100 jaar,” het sy gesê.




