’N Ambulans lewer dienste aan mense deur vinnig te reageer op nooduitroepe. Dit was nie die geval op 20 Augustus vir die Nyinde-gesin van Randhart nie. Elizabeth (51) se man, Petrus (60), het aanvalle die aand gekry en om middernag het sy die ambulansnommer 10177 drie keer geskakel voordat iemand opgetel het. Daar was vir haar gesê dat hulle ’n ambulans sal uitstuur. “Ek het bekommerd geraak, want dis asof hy in ’n koma was. Ek het toe my buurvrou geWhatsApp en om hulp gevra. Sy het dadelik Fox Security geskakel en binne drie minute was hulle met hulle paramedici daar. Petrus het in 2000 ’n beroerte gehad en ek het gedink dat dit weer een was,” het sy gesê.
Fox se paramedici het dadelik agtergekom dat Petrus se suiker 1.8 was en dat hy in suikerskok was. “Hoewel hy baie aggressief was, het die mense van Fox hom mooi hanteer en ’n drip opgesit en glukose gegee. Hulle is die oggend 02:00 daar weg. Om 05:20 het hy weer begin ruk. Ons het weer dié staatsambulans gebel en hulle het gesê dat hulle op pad is. Fox Security was toe ook weer uitgeroep.

“Die staatsambulans het om 06:00 daar opgedaag, en sien toe dat hy ernstig siek is. Hulle het die staatsparamedici geradio wat toe uitgekom het. Fox was op pad uit toe die paramedici daar aankom. Fox Security wou aan een van die staatsparamedici verduidelik dat hulle hom rustig gekry het en sy suikervlak en diagnose vir haar weergegee. Daar is toe vir hulle gesê om nie by haar werk in te meng nie,” het ’n ontstelde Elizabeth gesê. Sy vertel verder dat die paramedici net daar by hom gestaan het.
“Elizabeth het gevra hoekom help sy nie en sy het toe geantwoord en gesê dat hy te aggressief is. Fox se mense is weer gekontak en hulle het weer uitgekom en gehelp om hom vas te hou sodat die paramedici ’n bloedmonster kon neem en vir hom ’n glukose drip gee,” het Christa Doman, Elizabeth se buurvrou, gesê.
Volgens Elizabeth het die vrou van die staatsambulansdiens ook die heeltyd vir haar gevra wat het gebeur en hoekom maak hy so. Teen daai tyd was haar man se suiker 0.8. Petrus is op Sondag, 21 Augustus, in Germiston Hospitaal opgeneem waar hulle agtergekom het dat hy ’n suikerprobleem het. “Dit gaan goed met hom en die dokters is baie behulpsaam.”

Wat Elizabeth die meeste pla is wat as hy doodgegaan het. “Hoe kan iemand ’n paramedikus wees en nie weet wat om te doen nie? Dit is lewe en dood wat op die spel is. Hulle vat lank om hulle telefone te antwoord en hulle het na meer as drie ure eers opgedaag en by my man gestaan en na hom gestaar.”
Sy het ook verder genoem dat sy baie dankbaar vir haar buurvrou en Fox Security is. “Dankie is eintlik nie die woord nie,” het sy gesê.
Elowayne Gouws en Kevin Peel van die Fox Medical Response Unit, wat deur National Paramedical Services bestuur word, het bevestig dat hulle daar was en dat hulle die man gestabiliseer het. “Sy suiker was baie laag en ons het hom dextrose gegee en op ’n drip gesit. Hy was te bly om te hoor dat hy nie hospitaal toe hoef te gaan nie,” het Kevin gesê.
Nog geen kommentaar is van die ambulansdiens ontvang nie ten spyte daarvan dat RECORD twee keer gebel het vir kommentaar.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.





