LENTE, en veral lewe is iets wat gevier moet word en vanjaar is dit behoorlik by die NG Kerk Alberton-Wes gedoen.
Dié gemeente vier elke jaar aan die begin van Septermber hulle Nuwe Lewe Fees wanneer mens kan sien hoe alles om jou nuwe lewe kry so na die laaste draai van die winter met lente op die voorstoep.
Gedurende hierdie naweeklange feestelikheid word verskeie aktiwiteite aangebied en vanjaar is daar besluit om op vroue te fokus.
“Dit is sommer net ’n lekker naweek waar gemeentelede bymekaar kom en gesellig verkeer. Met die fokus op vroue het ek en ds Deon Louw gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n damesoggend te reël,” het Anél Louw, die organiseerder gesê.
Met gassprekers uit die boonste rakke, gasvroue wat hul beste voetjies voorgesit het en tafels laat pronk het, en smullekker happies vir besoekers, was almal dit eens dat dié oggend ’n reuse sukses was.
Prof Christina Landman het opgetree as een van die gassprekers. Sy het gesels oor vrouwees en hoe om as vrou nader aan God te lewe. Met spesifieke verwysing na vroue soos Eva, Sarah, Martha, Maria en Deborah se beproewinge, hul moeilike tye van pyn, verlies en onsekerheid was daar een draad wat elk van die verhale aanmekaar geweef het – God het hierdie vroue bygestaan en nooit verlaat nie. En Christina se boodskap was duidelik dat dit, tot vandag toe steeds die een onveranderlike in ons lewens is en ons kan daarvan kan getuig – Immanuel, God is met ons.
Kansa het ook saam gekuier en Ayanda Ngcofe, van Kansa het gesels oor die organisasie, bewusmaking van kanker en vrouegesondheid. Sy het die vroue ingelig oor die Relay4Life wat op 14 Oktober plaasvind. Om aan te sluit by Ayanda se geselsie, het Anél vir elke vrou teenwoordig die oggend ’n pienk strikkie gemaak wat die vroue trots gedra het vir bewusmaking van kanker. Daar is ook ’n donasie vir die bewusmakingsveldtog teen kanker aan Ayanda oorhandig.
Hierdie oggend was beslis een groot feesviering van vrouwees. Dames het gekuier en geklets in die wonderlikste atmosfeer en behalwe vir vriendskapsbande wat gesmee is, is die vroue huistoe met kosbare pitkos vir die siel.
Anél wil van die geleentheid gebruik maak om namens die NG Kerk Alberton-Wes, almal vir hul hulp en ondersteuning te bedank. “Ek sien uit om weer saam met die vroue van Alberton-Wes so ’n oggend aan te pak,” het sy gesê.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.







