Twee misdadigers steel juwele by skouhuis
Agente kan nie verantwoordelikheid neem vir besoekers se optrede nie.
’N EGPAAR van Southcrest rig ’n dringende waarskuwing aan huurders, huiseienaars en agente wat huise op skou sit nadat hul besittings op Sondag 11 September gesteel is.
Minnie en Dries Weideman het vertel dat hulle oorspronklik nie tuis sou wees terwyl die huis op skou was nie, maar dat Minnie nie goed gevoel het nie en dat hulle tuis gebly het. “Ons kleinkind was Sondag ’n jaar oorlede en ons wou na haar graf toe gegaan het in Krugersdorp, maar toe het my dogter en haar oudste dogter alleen gegaan,” het Minnie gesê.
Die Weidemans is huurders in die huis, maar omdat die eienaar verhuis is die huis in die mark.
Die agent wat daar was vanaf 15:00 en Dries was buite bedrywig by sy motor terwyl Minnie in die sitkamer was. Volgens Minnie het twee mans, wat netjies aangetrek was en soos besigheidsmanne gelyk het, ingestap.
Die een man het homself as ‘Piter’ voorgestel en so ook sy naam op die registrasievorm ingevul. Hulle het saam met die agent deur die huis geloop. Na die toer het die mans uitgegaan. “Die volgende oomblik sien ek dat die een terugkom. Hy het na my foon toe geloop wat in die kombuis besig was om te herlaai, en hom gevat. Dries het op daai oomblik van buite af ingekom en vir hom gesê om dit terug te sit en die man het toe.”
Minnie het vertel verder dat haar man niks wou doen nie, want hulle kon die hekke probeer sluit om die twee verdagtes in die huis te hou terwyl die polisie gekontak word. “Maar hulle kon pistole gehad het en dinge kon lelik uitgedraai het,” het ’n onstelde Minnie gesê.
Die mans is weg met haar armband, en die egpaar se horlosies met ’n totale waarde van meer as R10 000.
“Ek wil mense waarsku om bedag te wees en eerder veilig te wees wanneer jou huis op skou is. Wees wakker en let op. Ons gaan nie ons goed terug kry nie, maar net om te weet dat dié mense in my kaste gegrou het is baie ontstellend.”
Iets wat Minnie pla is die registervorm van die agentskap. “Mense moes net name en selfoonnommers neerskryf. Wat het geword van vanne en ID-nommers?”
Sy het ’n saak by Alberton SAPD oopgemaak met die saaknommer CAS 227/9/2016.
Die RECORD het Harcourts gevra vir kommentaar en volgens Tania Pretorius sal daar strenger maatreëls in plek gestel word.
“In die toekoms sal ons ID-nommers op registerlyste bysit, maar ons kan nie ’n besoeker verplig om die informasie bekend te maak nie. Eers tydens kontraksluit is die informasie verpligtend.
“Ons sal seker maak dat die verkoper/verhuurder daadwerklik alle besittings van waarde wegbêre en wegsluit. Ons sal die verantwoordelikheid hiervan op skrif stel aangesien dit op die stadium net mondeliks oorgedra word.
“Ons agente sal poog om meer as een agent by die skouhuis betrokke te maak om sodoende meer “oë” en beheer te kan geniet. Nie meer as twee besoekers (persone) sal die perseel op enige stadium betree nie. Ander besoekers sal buite wag al is hulle vanaf dieselfde familie,” het Tania gesê.
Volgens Harcourts se bestuursdirekteur, Mario Grobler, is ’n skouhuis ’n publieke uitnodiging, waarvoor agente nie verantwoordelikheid kan neem vir besoekers se optrede nie.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



