RYNO van der Westhuizen, ’n agt-jarige seun van Vanderbijlpark, het ’n fratsongeluk waar ’n 5cm-gedeelte van ’n deurhandvatsel in sy gesig, net onder die linkeroog, ingesteek het, oorleef.
Volgens sy ma, Jonet, het haar seun en sy nefie op 6 Oktober in die huis gespeel en hulle het gehardloop. “Ek onthou nog hoe ek geskreeu het dat hulle nie moet hardloop nie en dit is toe alles stil geword het. Die volgende oomblik kom die twee seuns in my kamer in gehardloop, spierwit geskrik. Ek sien dadelik Ryno se linkeroog is toe en omtrent 1cm onder sy oog sit iets swart. Ek het toe nog glad nie besef wat gebeur het nie. Ek het my handsak en sleutels gegryp en storm toe met hom kar toe. In die hardloop beveel ek André om sy pa te bel en te sê wat gebeur het en dat ek op pad is na hulle toe,” het sy ma gesê.
Ryno het gegly en met sy gesig teen die deurhandvatsel geval.
Sy en haar swaer, ’n oogkundige, is dadelik met Ryno na Cormed-kliniek, van waar hulle vir ’n dringende CT-skandering na Mediclinic Emfuleni verwys is. Jonet het vertel dat die metaalstafie haar seun se breinkas met enkele millimeters gemis het.
Dr Pieter Lategan, dr JD Verwey en oogspesialis Lourens Coetzee wat Ryno ondersoek het, kon hul oë nie glo nie.
Dit was die eerste keer ooit dat hulle so ’n besering gesien het. Hulle kon vasstel dat Ryno se oog normaal reageer ondanks die metaalstaaf wat dit byna heeltemal van binne af toegedruk het, maar hulle kon nog nie bepaal wat die skade aan omliggende senuwees, bloedvate en die oogkas was nie.
Ryno is dadelik na die Netcare Clinton Hospitaal in Alberton oorgeplaas, waar hy deur ’n span spesialiste ingewag is.
“Dr Wiebo van der Meulen, ’n hoogaangeskrewe neurochirurg, het oop kaarte met ons gespeel en erken dit sou ’n baie moeilike en delikate operasie wees om die handvatsel te verwyder. Ryno kon dalk aan die bloei gaan as hulle dit verwyder. Die dokter wou dit eers met sy kollegas bespreek en sou dan met ’n plan van aksie terugkom,” het Jonet gesê. Ryno was dadelik op ’n kursus baie sterk antibiotika geplaas omrede die operasie nie dadelik gedoen kon word nie. “Hoe langer die stafie in sy gesig was, hoe groter was die gevaar van infeksie.”
Ryno is op Saterdag, 9 Oktober by die Netcare Union Hospitaal se Cathlab geopereer. Na ’n paar ure het een van die spesialiste uitgekom en die goeie nuus aan die ouers gegee.
“Die handvatsel is uit! Geen bloeding nie! Halleluja!”
Van der Meulen het na die operasie steeds net sy kop geskud. “Hy sê hy kan steeds nie glo hoe ongelooflik gelukkig Ryno was nie. Hy sê selfs al sou die handvatsel chirurgies in Ryno se gesiggie geplaas moes word, sou dit nie met soveel presisie gedoen kon word dat daar geen skade was nie. Hy was tevrede met Ryno se toestand en hy kon Maandag ontslaan word,” sê Jonet.
“Dankie aan al die familie, vriende en kollegas vir hul ondersteuning en duisende gebede. En natuurlik ons Hemelse Vader.
“Nog nooit het ek so geëerd gevoel om deel te wees van Sy meesterplan nie.
“Hy het ons gebruik om vir almal te wys wonderwerke gebeur steeds en Hy is by ons altyd!”
Ryno gaan Dr Dos Ramos in Desember sien om sy oë net weer deeglik te toets. “Maar ek weet dis net prosedure. Ek weet Ryno is geseënd en bedoel vir groot dinge waarvan dié, die eerste was.”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.







