Sprokiesverhaal is ‘n wenner
Elke deelnemer het ietsie gewen, maar die groep Phelia het weggestap met die groot trofee vir hul sprokiesverhaal-diorama.
DIE 44ste Suidstreek Intergroepdag vir Senior Lidmate was aangebied deur die NG Kerk Brackenhurst op Woensdag, 15 Maart.
Hierdie byeenkoms word jaarliks gehou met die doel om erkenning aan seniors te gee vir hul harde werk. “Party van die items hier is ongelooflik en dis moeilik om te dink dat iemand van 80 of 90 dit so mooi gemaak het,” sê Chrisna de Ru, een van die voorsitters van die byeenkoms.

Seniors kan enige item inskryf – van tuisgemaakte konfyt en gebak, tot gehekelde babaklere en kombersies, tot handgemaakte skinkborde en tuisgegroeide groente. Hier word alles erken. Deelnemers mag meer as een item in skryf en groep-projekte is ook welkom. Inskrywings word gekategoriseer volgens ouderdom, en die minimum ouderdom van ‘n deelnemer moet 55 wees.
Hierdie jaar het die hoeveelheid inskrywings toegeneem met 555 teenoor verlede jaar se 467. Daar was ook sewe groep-projekte hierdie jaar – drie meer as verlede jaar. Die kerksaal was vol pragtige items wat mense kon beoordeel – elke item prysloos en sorgvol gemaak.

“Mens kan regtig nie ‘n prys op enige van hierdie items sit nie,” sê Elize du Preez, die ander voorsitter van die byeenkoms. “Dit het reeds soveel sentimentele waarde – dis alles so spesiaal.”
Buite die kerksaal kon mense koffie en vingerhappies geniet terwyl hulle wag vir beoordelaars om hul opsies te weeg. Teen 9:30 het Ds. Phillip Coetzee in die kerk vir almal geopen met gebed voordat pryse uitgedeel is. Elke deelnemer het ietsie gewen, maar die groep Phelia het weggestap met die groot trofee vir hul sprokiesverhaal-diorama.
Om die byeenkoms af te sluit, het Afrikaans-sanger Pieter Naudé ‘n paar liedjies gesing vir die gehoor. Hy het selfs ge-“yodel”, wat almal baie geniet het.
“Dinsdae om 10:00 word seniors uitgenooi om bymekaar te kom by NG Kerk-Wes,” sê Marie Hammond, lid van trofee-wengroep Phelia. “Raak ‘n bietjie sosiaal en maak ‘n konneksie met ander mense – dis tog nodig en so lekker,” sê sy.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



