Splinternuwe Liewe Heksie by Emperors Palace
Liewe Heksie kuier by Emporers Palace met 'n heel nuwe storie om te vertel.
KEMPTON PARK – Lefra Produksies bring ‘n splinternuwe Liewe Heksie-verhoogproduksie Emperors Palace toe! Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels is vanjaar 80 jaar jonk en glo dit as julle wil, Liewe Heksie is vanjaar 50 jaar oud.
Maar Heksie word mos nooit ouer nie. Lefra Produksies toer reeds die afgelope drie jaar met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies. Om Verna se verjaarsdag te vier, het regisseur Frans Swart vir Verna oortuig om ‘n splinternuwe Liewe Heksie-storie te skryf. So is hierdie nuwe Heksie-teaterproduksie gebore – Liewe Heksie en die Tuindwergie.
“Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” sê Verna “en wou sien wat Heksie met die Tuindwergie doen. En glo my, ek is seker sy gaan weer in die moeilikheid kom! Ons maatjies moet maar kom kyk wat vang Heksie met die Casper, die tuindwergie aan.”
Frans Swart, regisseur van Liewe Heksie sê hy is baie opgewonde dat Verna die nuwe storie spesiaal vir hom geskryf het en ook aan hom toevertrou het. “Liewe Heksie het deur die jare so ‘n groot invloed op my lewe gespeel, want ek was kameraman op die Heksie-televisiereekse.
Behalwe dat ek grootgeword het met Liewe Heksie, het Heksie in my hart kom inkruip met die televisiereekse. Dit is vir my ‘n besondere eer om Liewe Heksie en die Tuindwergie op te voer en dis so besonders, want dis ‘n vars en splinternuwe storie,” sê Swart.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans.
Liewe Heksie en die Tuindwergie speel in die oggende om 11:00 by Emperors Palace se Theatre Marcellus vannaf 22 tot 26 Oktober. Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 815 8000 of www.computicket.com.
Heksie is ideale vermaak vir kleuterskole, crèches, speelgroepies en laerskole. Selfs hoërskole gebruik Heksie vir kuns en kultuurprojekte. Indien skole of groepe wil bespreek, kan Monica geskakel word by 011 815 3000 of stuur ‘n epos aan admin@lefra.com. Vir meer inligting, besoek www.lieweheksie.com
Ana van Achterbergh speel Liewe Heksie. Ander spelers is Botha Enslin (Kwaaitjie Kabouter, Mattewis, Geelheks, Borrie, Griet en Karel Kat), Debré Rossouw (Blommie Kabouter, Koning Rosekrans en Kerrie) en Phillru van Achterbergh (Casper, die Tuindwergie, Karring, die melkkabouter en Borrie). Frans Swart het die verhoogverwerking gedoen en is ook regisseur.



