‘n Rekenaarprogram, ‘n kreatiewe denker en siedaar!
"Van klein goedjies soos binnenshuise ontwerp tot baie gevorderde kunsmatige ledemate ontwerp en vervaardig met 'n 3D-drukker - daar is baie wat mens met dié sagteware kan doen."
KREATIWITEIT is iets wat beslis op meer as een vlak gevoed kan word en die skeppings van ander laat mens altyd in verwondering staan.
Die REKORD het ‘n interessante onderhoud met Diederick Barnard, ‘n Pretoriaanse IGO-onderwyser wat baie vaardig met rekenaargesteunde ontwerp is, gevoer. Rekenaargesteunde ontwerp (genoem computer-aided design, of CAD in Engels) is die gebruik van rekenaarstelsels of –werkstasies om te help met die skepping, wysiging, analise en optimalisering van die ontwerp van ‘n item. Hierdie sagteware word gebruik om die produktiwiteit van ontwerpers te verhoog, die kwaliteit van die ontwerp te verbeter, kommunikasie te verbeter deur dokumentasie en om ‘n databasis vir vervaardiging te skep.
Diederick (31), wat by Oos-Moot Hoërskool in Pretoria gestasioneer is, weet baie van hierdie sagteware en deel graag inligting daaroor met Alberton, ‘n gemeenskap waarvoor hy baie lief is.

Vraag: Wat het jou laat belangstel in CAD?
Antwoord: Ek het studeer om ‘n IGO (Ingenieursgrafika en Ontwerp) onderwyser te word. Tydens ‘n derdejaar-module het ons blootstelling aan CAD gekry en van daar af het ek begin rondspeel en so nou en dan ‘n kursus bygewoon.
V: Hoe lank maak jy al gebruik daarvan?
A: Vanaf net na middel 2010, so sewe jaar dan.
V: Sal dit vir jou lekker wees om CAD as ‘n vak by ‘n skool aan te bied? Glo jy jy sal ‘n sukses daarvan kan maak? Hoe so?
A: Solank mens dit interessant vir die leerders maak kan dit moontlik heel lekker wees om te doen. Ons is in die proses om ‘n CAD kursus vir ons IGO leerders saam te stel en glo ons gaan suksesvol wees. Ek het al voorheen CAD kursusse aangebied en het reeds ‘n paar dinge in plek wat die leerders baie sal interesseer.
V: Glo jy CAD kan ‘n mens se lewe verbeter? Indien wel, hoe so?
A: Definitief, van klein goedjies doen soos binnenshuise ontwerp tot baie gevorderde kunsmatige ledemate met ‘n 3D-drukker vervaardig. Daar is baie wat mens met die sagteware kan doen.
V: Wat is jou grootste prestasie wat jy met CAD bereik het?
A: Ek het so twee jaar gelede begin met ‘n een-jaar kitaarbou vakleerlingskap en as deel daarvan moes ek self ‘n kitaar ontwerp en bou. Ek het vir meer as twee weke net aan die tekening gewerk. Ek kon bestaande kitare ook net namaak as ek wou, maar ek het nie die punt daarrin gesien nie. Ek wou iets maak wat my eie en uniek is.
V: Wat beplan jy om binne die volgende jaar nog met CAD te bereik?
A: Ek neem Desember eienaarskap van drie-in-een produk wat kan 3D druk, laser graveer en CnC kerfwerk doen. Ek gaan dit implimenteer in die CAD kursus wat ons vir die leerders gaan aanbied en dan wil ek self ook rondspeel en kyk of ek iets van nut kan ontwerp en ‘n prototipe maak.
V: Wat is die grootste uitdaging wat CAD vir jou voorgebring het?
A: Die hoeveelheid tyd wat dit neem om vaardig te word. Daar is baie basiese goed wat mens vinnig kan leer, veral as jy reeds bekend is met die terminologie wat gebruik word, maar aan die ander kant is daar weer goed wat letterlik ingenieursvlak-wiskunde benodig. Daar is ook al so ‘n groot verskeidenheid van sagteware dat dit onmoontlik is vir een persoon om alles te weet.
V: Watter ander belangstellings / stokperdjies / vaardighede het CAD aan jou voorgestel?
A: Soms is dit lekker om sommer net ‘n voowerp in of om die huis te neem en dit oor te teken in ‘n geskikte program. So nou en dan werk ek aan ‘n nuwe kitaar ontwerp en dan sien ek ook uit na die drie-in-een drukker.
V: In jou opinie, wat is die toekoms vir CAD? Hoe dink jy sal dit ontwikkel oor die volgende 50 jaar?
A: CAD is al reeds vir ‘n ruk die standaard wyse van teken by 99 persent van besighede/maatskappye soos ingenieurs, argitekte en binnenshuise ontwerpers. Op die stadium is dit nog nodig om ‘n rekenaar te gebruik vir meeste programme maar hier en daar stadig maar seker begin al hoe meer “mobile” weergawes van sekere programme verskyn, so die beweeg na teken op tablette en selfs fone sal die volgende stap wees. Ek glo en hoop in my leeftyd sal hulle ‘n holografiese “skerm” ontwikkel soos in Sci-Fi films – dit sal nogal interessant wees om CAD op so ‘n skerm te gebruik.
V: Wat sou jy wou hê die lesers moes weet oor CAD / wat is jou boodskap aan hulle?
A: Die denkwyse dat dit ‘n duur ding is om te bekom was op ‘n tyd waar maar daar is reeds ‘n paar gratis programme wat vir nuwelinge baie nuttig sal wees. Die konsepte en terme in baie van die sagteware is dieselfde en dit is baie makliker om nuwe sagteware aan te leer as jy alreeds een of twee ander kan gebruik. IGO- leerders mag hul PAT-tekeninge al die afgelope paar jaar met CAD doen, maar niemand wys hulle hoe nie en in baie gevalle weet hulle dit nie eers nie. As jy wil leer hoe om dit te gebruik, maar wil nie ‘n klomp geld spandeer nie, gaan kyk vir gratis programme op Google, hulle maak self ook een, en kyk dan vir videolesse. Jy mag dalk net verbaas wees met wat jy regkry.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



