Kersfeesafsluiting vir damesklub
Elke dame het ook ’n klein Kersgeskenkie gekry om ’n bietjie ekstra vreugde te deel.
DIE Alberton Damesklub het hul laaste vergadering vir 2017 in die Alberton Aftreeoord se saal op 9 November gehou. Die tema was Kersfees en die eregaste was Ds Willie Badenhorst en die sangeres Marlene Bezuidenhout.
Martie Marnewick, die voorsitter van die klub, het die vergadering geopen en almal verwelkom. Sy het vir almal dankie gesê dat hulle so spoedig bevestig het dat hulle sal bywoon.
Dr Trix van der Walt het almal met hul verjaarsdae gelukgewens. “Ons almal tel die dae af tot ons verjaarsdae, maar elke dag is ’n geskenk. Veels geluk aan al die verjaarsdagdames van November, Desember en Januarie,” het sy gesê.
Ds Badenhorst het as gasspreker ’n boodskap met die dames gedeel. Hy het vir hulle van die heiligheid van Kersfees en Jesus se geboorte vertel en het hartseer Bybelverhale as verwysings gebruik.
“Ons harte juig in die Kersgety. Kom ons wees dankbaar vir wat God vir ons gedoen het. Aan Hom al die glorie – geniet ’n geseënde Kersfees,” het hy gesê.
Marlene Bezuidenhout, ’n baie bekwame en gekwalifiseerde lofsangeres het almal met haar pragtige stem betower. Dit was nie haar eerste keer by die damesklub nie.
Voordat sy begin sing het, het sy God geloof en oor Hom gesels. Sy het nie net ’n passie vir sang nie, maar ook om God se Woord te versprei.

’n Paar van haar liedjies het We Worship Your Name, Oh Holy Night, Herders Op Die Ope Veld, I Call Him Lord, Stille Nag, Die Heiland Is Gebore en Hallelujah ingesluit.
Party dames het lekker in hul stoele saamgewieg en hul hande liggies geklap. Na elke lied het Marlene ’n applous gekry en sy het ook ’n paar CD’s en DVD’s saamgebring indien iemand daarvan sou wou koop om haar stem oral heen met hulle saam te dra.
Ná haar optrede het dominee ’n maaltyd-gebed gedoen voordat ’n heerlike driegang-maaltyd bedien was. Die voorgereg was gebakte pere met neute en balsamiese asyn; die hoofgereg was ’n heerlike varkvleisete met verskeie groente, ’n broodrolletjie en aartappels en die nagereg was pannekoek gevul met piesang en sjokolade- en vlasous.

Dit was ’n Kersete duisend – als te danke aan Johnny’s Catering.
Elke dame het ook ’n klein Kersgeskenkie gekry om ’n bietjie ekstra vreugde te deel.
Dit was ’n pragtige vergadering.
Die volgende damesklubvergadering sal op 8 Februarie 2018 plaasvind met gasspreker Freek Robinson. Indien jy dit wil bywoon of enige navrae daaroor het, kontak gerus vir Dr Trix van der Walt op 083 449 5446.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



