AfriForum beveg Eskom se planne om tariefverhogings
Die beweerde vrugtelose en vermorste uitgawes en oorspandering op die Ingula-, Medupi- en Kusile-kragstasies.

AfriForum en AfriSake het onlangs hul geskrewe kommentaar rakende die elektrisiteitsverhoging wat Eskom vir die 2018/19 finansiële jaar aangevra het, by die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ingedien. Dié organisasies voer aan dat die kostes van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit moet word.
Eskom het ’n aansoek ingedien vir ’n verhoging van bykans 20 persent in die 2018/19 elektrisiteitstariewe vir direkte kliënte en 27.5 persent vir munisipale kliënte.
“Eskom kan nie verwag dat die publiek korrupsie en wanadministrasie moet finansier deur elektrisiteitstariewe te verhoog nie. Die Daily Maverick het net gister berig dat Willie Mathebula, die nasionale tesourie se hoofverkrygingsbeampte, aangedui het dat Eskom in die 2016/17 finansiële jaar met R31.3-miljard van die voorgeskrewe voorsieningskettingbestuursproses afgewyk het,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering.
AfriForum en AfriSake lig verskeie gevalle uit waar daar waarskynlik korrupsie of wanadministrasie in Eskom was:
– Die McKinsey/Trillian-sage waar R1.6-miljard na bewering onwettig aan dié maatskappye betaal is;
– Die beweerde onwettige uitbetaling van bonusse aan sekere senior Eskom-beamptes ter waarde van R5-miljoen;
– Die beweerde onwettige vooruitbetaling aan die Gupta-maatskappy Tegeta (R659-m);
– Die beweerde onwettige afskryf van ’n boete van bykans R2-miljard wat aan Tegeta opgelê is;
– Beweerde tenders (bykans R1-miljard) toegeken aan ’n maatskappy wat gedeeltelik deur Matshelo Koko, dogter van die waarnemende hoof uitvoerende beampte van Eskom, besit word;
– Die beweerde vrugtelose en vermorste uitgawes en oorspandering op die Ingula-, Medupi- en Kusile-kragstasies;
– Die beweerde onwettige insluiting van voorsiening vir betalings aan onafhanklike kragvoorsieners, alhoewel die kontrakte vir die nuutste “venster” nog nie met die onafhanklike kragvoorsieners gesluit is nie.
Volgens Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregsadvieseenheid by AfriSake moet privaat energieverskaffers toegelaat word om die mark te betree.
“Die grootskaalse bedrog wat tans in Eskom aan die orde van die dag is, dien as genoegsame bewyse dat hierdie tipe monopolie onder staatsbeheer tot nadeel van nie net die sakesektor is nie, maar ook die breër publiek. Die speelveld is nie gelyk nie en dít te wyte aan magsmisbruik. Eskom se bestuur en die parlementêre komitee getaak met die ondersoek na die beweerde bedrog in Eskom moet verseker dat die verantwoordelike partye aan die pen ry en dat die sakesektor en breër publiek nie weer eens slagoffers van tariefverhogings is nie.”
Hierdie voorlegging vorm deel van ’n langertermynstrategie van AfriForum en AfriSake om korrupsie en wanadministrasie in Eskom te bestry.
*Vrygestel deur AfriForum en Afrisake.
Die RECORD het vir Eskom sowel as vir NERSA genader vir kommentaar, maar ons het nog niks teruggehoor van hulle af nie.
Lees Ook:
AfriForum apprehends escaped prisoner
AfriForum puts pressure on EMM to fix sewage problem
Keep koppies unspoilt – Afriforum
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



