Local newsNews

Bekende Albertonners gaan realiteitsprogram aanbied

Dié twee gaan die die realiteitsprogram aanbied wat baie soortgelyk is aan die program, The Biggest Loser.

‘N REALITEITSPROGRAM genaamd Verloor Jou Appel gaan binnekort op televisie verskyn en word deur twee bekende Albertonners, Paul Ascot en Desiréé Oliphant, aangebied.

Paul (64) is die eienaar van die The Diet Clinic-gesondheidsklinieke (daar is 43 landwyd) en Desiréé (44) is die Mrs South Africa semi-finalis vir 2015 en nasionale afgevaardigde vir Mrs United Nations South Africa. Sy is ook ‘n sakevrou met haar eie gesondheidskliniekketting, het ook vir 20 jaar as verkoopsbestuurder vir Metro FM gewerk, en dan werk sy ook sedert 2007 as ‘n Bikram-joga instrukteur.

AANBIEDER: Die suksesvolle gesondheidsfundi Desiréé Oliphant.

Die program is baie soortgelyk aan die program The Biggest Loser. Paul Ascot het met die idee, na 18 jaar se oorweging, vorendag gekom.

“Die idee agter Verloor Jou Appel is ‘n tweejaarlike opheffende program waar 12 deelnemers van regoor die land vir 13 weke kompeteer om die meeste gewig te verloor,” sê Paul. “Ek en Desiréé rig elkeen ses deelnemers af wat reeds gekies is.”

Die eerste episode is reeds op 8 Januarie by die Egweni Lodge in Parys geskiet. Episodes sal weekliks geskiet word (nie noodwendig elke keer by dieselfde plek nie) en behoort nie meer as 15 episodes in totaal te wees nie (dié is nog nie bevestig nie).

Die kies van kandidate

Daar was geen soliede inskrywingsplatform vir potensiële deelnemers nie – Paul en Desiréé het inskrywingsgeleenthede op hul persoonlike sosiale mediablaaie geadverteer en sommer ook deur die woord van mond. Hulle het vooraf met elke deelnemer onderhoude gevoer om seker te maak hulle is vir die program geskik.

“Die ideale kandidate moes doodgewone mense wees, soos die kykers. Hulle moes volle toewyding toon vir die groot uitdaging wat voorlê,” sê Paul. “Hulle moes ook goeie kommunikasievaardighede toon sodat ons weet hulle die kalklig sal kan hanteer. Ons kon ook nie kandidate kies wat té oorgewig is nie, anders sal dit te moeilik wees om na 13 weke ‘n merkwaardige verskil in hul gewig te kan raaksien.”

In kontras met The Biggest Loser gaan deelnemers nie ‘n woonplek vir 13 weke deel nie. Hulle gaan nogsteeds hul normale lewens lei nadat elke episode geskiet is, en só sal hul selfdissipline werklik op proef gestel word.

“Deelnemers moet met hul normale lewens kan aangaan terwyl hulle hierdie kompetisie probeer wen. As hulle ‘n totaal anderste leefstyl vir die program aanneem, gaan dit waarskynlik baie moeilik of selfs onmoontlik wees om aan te pas as alles weer verby is,” sê Paul.

Die uiteindelike wenner van die program sal ‘n week vakansie vir twee na Mozambiek toe, asook ‘n paar ander geborgde pryse, wen. Die grootste prys is egter goeie gesondheid en selfvertroue, dus sal elke deelnemer eintlik as ‘n wenner wegstap.

MAN MET DIE IDEE: Paul Ascot, die brein agter Verloor Jou Appel.

Jy sal die program binnekort (enige tyd vanaf middel Februarie) op MyTV (DSTV kanaal 460), Via (kanaal 147) en gedeeltelik op TBN (kanaal 343) kan kyk.

Besoek gerus die Verloor Jou Appel, Ascot Diet en The Diet Clinic Facebook-blaaie vir meer inligting – Miskien kan jy solank daaraan dink om vir die volgende Verloor Jou Appel-reeks in te skryf, wat in die middel van hierdie jaar geskiet sal word.

Lees Ook:

VIDEO: Robot-apteker dis medisyne vinnig uit

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button