TV-program word in Alberton geskiet
Die vierde episode van Verloor Jou Appel is in die Rock ‘n Sole restaurant geskiet.
’n Realiteitsprogram genaamd Verloor Jou Appel gaan binnekort op televisie verskyn en is baie soortgelyk aan die program The Biggest Loser. Die vierde episode is onlangs by Rock ’n Sole restaurant in Meyersdal geskiet.
Aanbieders van die program, Desiréé Oliphant (van The Diet Clinic) en Paul van den Berg (van Ascot Dieët Kliniek) is albei van Alberton.
Lees ook: Bekende Albertonners gaan realiteitsprogram aanbied
In die program is daar twee spanne, span Desiréé en span Paul, met ses deelnemers per span wat oorgebly het nadat die vierde episode geskiet is – aanvanklik was daar 22 deelnemers in totaal.

Die vierde episode is in die Rock ’n Sole restaurant geskiet, want die tema van dié episode het behels hoe ’n mens jou diëet kan gehoorsaam ten spyte van temptasie wanneer ’n mens saam met vriende en/of familie uiteet.
Teen 3nm was die restaurant vol deelnemers en kameras – almal het in spanning gewag vir die episode om geskiet te word. Almal het bietjie gesels en Paul en Desiréé het gou deur hul notas gegaan om seker te maak hulle ken hul woorde.

Nadat ’n baie lang bestelling geplaas was vir almal se kos, was dit tyd om die episode te begin opneem.
Paul en Desiréé het vir kykers ’n inleiding van die episode gegee. Hulle het gesels oor hoe om ’n diëet te handhaaf wanneer ’n mens ’n restaurant gaan besoek, gesonder opsies om te bestel en steeds jouself te geniet saam met jou familie en vriende.

Soos enige normale mens was dié twee effens op hul senuwees en hul tonge het hier en daar ’n bietjie geknoop, maar die regisseur was baie geduldig. Sommer tjoef-tjaf was die inleiding klaar geskiet.
Nadat almal hul voorgeregte gehad het, was dit tyd om verder te skiet. Deelnemers het ’n kans gekry om vir Paul en Desiréé vrae te vra, soos: Hoe sal ’n ‘steak’ met ’n bietjie vet eenmaal per week ’n mens se diëet beïnvloed, wat doen ’n mens as daar vingerhappies uitgesit word by die werkplek en hoeveel sushi kan ’n mens op ’n diëet eet?

Hierdie vrae was gevra en beantwoord sodat kykers met dieselfde knaende vrae meer insig kon kry.
Nadat almal hul hoofgeregte gehad het, het Paul en Desiréé vir Hennie Heymans van Stratcol – hierdie organisasie is die hoofborg van die program, dankie gesê.

Hulle het ook gesê: “Ondersteun asseblief Be Your Dream Studio van Afrikaanse sangeres, Anais. Be Your Dream hoop om vir mense ’n droom te gee.
“SMS die deelnemer van die program, waarvoor jy stem, se naam na 32545, of besoek www.stratcol.co.za/VerloorJouAppel om deur middel van ’n elektroniese debietorder ’n donasie te maak.”
Die REKORD het ook met drie van die deelnemers gesels.

Vir Cobé Pereira da Costa, Jacky Weideman en Lynrey Lindsay was gevra hoe dit voel om reeds by die vierde episode te trek.
Cobé het gesê: “Ek voel anders nou – ’n bietjie moeg en op my senuwees. Maar, ek is bly om te kan sê dat ek ’n paar kilos afgeskud het en nuwe vriende gemaak het.”
Jacky het gesê: “Ek is baie gemotiveerd en ek voel baie goed. Ek is vasbeslote om hierdie 13 weke uit te ‘stick’ – ek kan sommer al klaar voel my klere sit minder styf aan my.”
Lynrey het gesê: “Ek voel goed, ek voel gesond en ek het meer energie. Ek het goeie vriende gemaak en ek is dankbaar dat ons mekaar het om mekaar gemotiveerd te hou.”


For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



